Vroue van die plaaslike Masjied het Sondag 13 November die vyftigste bestaansjaar van die Wardiah Moulood Jamaa-vrouegroep gevier.


Die Wardiah Moulood Jamaa-vrouegroep van die plaaslike Masjied het verlede Sondag (13 November) hul 50ste bestaansjaar tydens die Moulood-un-Nabi-herdenking gevier.

Moulood-un-Nabi is die herdenking van die geboortedag van die profeet Mohammad en val in die derde maand in die Islamitiese kalender. Op hierdie jaarlikse Moulood-byeenkoms word die lewe en leerstellings van die profeet en boodskapper deur die meeste Moslems gevier.

In 1970 het wyle Hadjie Mariam Laatoe ’n soortgelyke Moulood-viering in Wellington bygewoon en geïnspireerd teruggekeer met die gedagte om ’n Moulood Jamaa in Worcester te stig. Dit is ’n groep vroue in die Masjied wat gefokus is om Mohammad te dien en hul gemeenskap en gemeente se vroue en kinders te ondersteun.

“Deur haar liefde vir ons profeet is haar gedagte in ’n visie omgeskep. Nadat sy met haar man en raadgewer, Sheig Mogammad Laatoe, gekonsulteer het, het sy die Wardiah Moulood Jamaa in 1972 met net ’n paar vroue gestig. Ons het ons eerste Moulood op 30 Julie 1972 in die Durbanstraat-Masjied gevier en ons was bykans 40 lede sterk. Moulood Jamaas van omliggende dorpe en elders is uitgenooi en het hierdie geskiedkundige gebeurtenis saam met ons gevier. Vandag nog kom vroue van heinde en ver om ons Moulood-vieringe by te woon en ons aanvaar ook uitnodigings van ander Jamaas,” sê Shahedah Laatoe Salie, een van die organiseerders en ’n dogter van die stigter.

As gevolg van Laatoe se passie, toewyding en liefde het sy vir jare aangehou om hierdie Moulood Jamaa te lei. Sy is op 1 September 2002 oorlede. Haar twee dogters, Shahedah Laatoe Salie en Hadjie Aheysha Laatoe Petersen, asook haar twee skoondogters, Shumeez Laatoe en Shafeeqah Laatoe, het die leisels oorgeneem.

“Ons is tans 26 volwassenes en sewe kinders. Slegs drie van die huidige lede is van dag een af hier – Galiema van der Westhuizen, ek (Salie) en my suster (Hadjie Aheysha Laatoe Petersen).”

By verlede Sondag se 50-jaar-viering is spesiale erkenning aan die stigter en alles wat sy oor die jare vermag het, gegee.

“Ons opregte waardering en dankbetuiging aan ’n ieder en ’n elk wat ons die afgelope 50 jaar so getrou bygestaan het tot die sukses van hierdie geskiedkundige gebeurtenis.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article