Navorsers het ’n belangrike skakel tussen alkohol en borskanker gevind.

Alkohol speel ’n rol in die volgehoue uitdrukking van die BRAF-geen, wat kanker aanvoor.

“Ons navorsing wys alkohol versterk die rol van estrogeen en dryf só die groei van borskankerselle aan,” sê prof. Chin-Yo Lin, ’n kankerbioloog aan die Universiteit van Houston.

Lin en sy medenavorsers het gevind dit kan die uitwerking van estrogeen naboots of versterk en só die risiko van borskanker vergroot.

Hulle het ook bevind alkohol verswak die middel tamoksifeen se vermoë om die vinnige groei van kankerselle te onderdruk.

Alkohol kan tamoksifeen se uitwerking blokkeer en die doeltreffendheid van behandeling raak, skryf die navorsers in die wetenskaplike joernaal PLOS ONE.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) klassifiseer alkoholiese drankies sedert 2012 as “karsinogenies vir mense”.

In ’n ontleding is bepaal dat die risiko van borskanker selfs by vroue wat ligte drinkers is – een klein drankie per dag – sowat 5% groter is as by dié wat glad nie alkohol drink nie.

Volgens Cancer Research UK is in ander studies bevind sowat vier klein drankies per dag kan die risiko van borskanker met tot 55% vergroot.

Lin sê hulle wil meer inligting aan vroue verskaf om hul alkoholinname beter te kan opweeg teen die moontlike gesondheidsgevare. – Rochélle Human, Netwerk24

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article