Die lewe van ’n 21-jarige vrou van Zolani in Ashton is haar verlede week ontneem toe sy nege keer deur haar vriend gesteek was.
Asiphesona “Nolizana” Mantlana is Saterdag net voor 01:00 deur haar vriend wreed ter aanskouing van bure vermoor. Sy het Vrydagaand laat van Mosselbaai af teruggekeer en het skaars haar twee tannies by wie sy gewoon het gegroet, toe sy by die huis uitgesleep word.
“Sy het uit Mosselbaai uit huis toe gekom. Sy het hierdie jaar by ’n kollege daar begin studeer en het gesê sy wou vir die Paasnaweek huis toe kom om kerk toe te gaan,” vertel Pumeza Vicani, ’n vriend van die oorledene se familie.
Sy het dit egter nooit tot by die kerk gemaak nie.
“Toe sy nog Vrydag op pad was huis toe het haar twee tannies vir haar gesê hulle gaan by die kerk wees, die huis gaan gesluit wees, so sy moet kerk toe gaan wanneer sy in Zolani aankom. Sy het dit egter nie gedoen nie. Sy het haar sakke neergesit en gestap. Ons is nie seker waarheen nie.”
Later die aand, toe een van haar tannies al by die huis was, het Mantlana hard aan die deur geklop om ingelaat te word.
“Toe haar tannie die deur oopmaak het sy gesê dis al weer haar vriend, Thulani, wat aangaan. Haar tannie het vir haar gesê om die polisie te bel en hulle albei het gaan lê.”
Nie lank daarna nie het die ander tannie by die huis gekom.
“Hulle het mekaar gegroet en bietjie gesels en hulle het almal gaan lê. Nolizana het in die voorhuis gelê.”
Nie lank daarna het haar vriend deur ’n venster gebars.
“Thulani het toe ’n venster met iets stukkend geslaan en deurgespring. Die een tannie sê hy het ’n groot blink ding in sy hand gehad, wat ons vermoed ’n mes was. Hy het gevra waar Nolizana is en haar gaan soek.”
Nadat hy haar in die huis gevind het, het hy haar by die voordeur uitgesleep en op die stoep neergegooi.
“Soos hy haar neergegooi het, het hy haar na die pad toe geskop en ook gesteek. Dis toe ek hoor hier gaan iets buite aan, want die ander bure het ook gaan kyk wat aangaan. Soos hy haar in die pad af na sy huis toe gesleep het, het hy haar gesteek. ’n Mens kon hoor hoe skreeu sy om hulp en hom smeek om haar nie te steek nie. En ewe skielik was daar net stilte.”
In daardie stadium het die polisie ook opgedaag, maar volgens Vicani het hulle hul tyd gevat.
“Ek het na die polisievoertuig gehardloop en probeer verduidelik wat aangaan en dat hy besig is om haar dood te maak. Maar al wat hulle gesê het was dat hulle nie tot daar kon gaan nie, want hulle moet wag vir back-up. Ek wou in die bakkie klim om hulle tot by haar te neem, maar hulle het die deure gesluit.”
Intussen het een van die ander bure gaan kyk wat om die draai by die vriend se huis aangaan.
“Toe hy daar kom, het Nolizana daar voor sy deur gelê. Thulani het glo daar op en af gestap en toe uit die erf gestap. Hy het toe gaan kyk of sy nog lewe. Hy het vir ons kom sê sy is dood en het ’n steekwond in haar hart. Haar een tannie, wat ’n verpleegster is, het toe tot daar gegaan en net toe sy haar hand optel, het die polisie daar gestop.”
Vicani verduidelik verder dat Mantlana minute voordat sy vermoor is, ontstellende boodskappe op haar WhatsApp-status gelaai het.
“In die een het sy gesê sy haat die Ashton-polisie en weier om ’n GBV-statistiek te word. In die ander het sy gesê hoe baie sy Thulani haat. Net voordat hy by hul huis opgedaag het, het sy vir iemand in ’n WhatsApp-boodskap gesê sy is bang en dat Thulani jaloers is.”
Die polisie het Dinsdagoggend om 03:30 uiteindelik die verdagte opgespoor.
“Nadat hy van die toneel af weggehardloop het, het hy glo by ’n taverne gaan kuier waar hy glo vir die mense vertel het dat hy vir Nolizana doodgemaak het en dat dit ’n ongeluk was. Die polisie het hom Dinsdagoggend onder sy ma se bed gekry nadat hulle inligting oor waar hy was, ontvang het.”
Volgens inligting is die verdagte ’n 40-jarige man wat glo ook twee van sy vorige vriendinne erg aangerand en ook weggehardloop het.
Die polisie het bevestig ’n man is in verband met die moord in hegtenis geneem en sal in die hof verskyn sodra hy aangekla word.





