‘n Vrou het op Donderdag 12 Junie in die hof in Robertson verskyn nadat sy na bewering ‘n familielid se baba uit haar huis gesteel het.

Die vrou het volgens berigte by die familielid in Robertson gekuier en met die baba verdwyn toe die ma in die badkamer was om te gaan was.

Die ma het alarm gemaak en die baba is dieselfde dag in Worcester opgespoor.

‘n Stemnota het ná die voorval wyd die ronde gedoen waarin beweer is dat ‘n sindikaat betrokke is by kinderverdwynings by winkelsentrums in die omgewing. Dit blyk egter nie waar te wees nie.

Volgens lt.kol. Hennie van der Walt van die Worcester-polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings, sal die vrou op Donderdag 10 Julie weer in die hof verskyn. Die polisie wou nie in hierdie stadium meer uitbrei oor die voorval nie omdat die ondersoek steeds aan die gang is.

Voorvalle waarin babas deur vroue gesteel word, haal dikwels die nuus. Een van die bekendste voorvalle in Suid-Afrika is sekerlik die geval van Zephany Nurse, wat wêreldwyd opslae gemaak het. ‘n Vrou, wat soos ‘n verpleegster aangetrek was, het haar in 1997 kort ná geboorte uit die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad gesteel. Levona en Michael Solomon het Zephany as hul eie kind grootgemaak, maar die waarheid het 17 jaar later aan die lig gekom toe Zephany se suster, Cassidy Nurse, haar ma vertel het van ‘n kind by haar skool wat baie soos sy lyk.

Levona is in 2016 tien jaar tronkstraf opgelê. Netwerk24 het in Julie 2023 berig dat parool aan Levona toegestaan is en dat sy van die Worcester-gevangenis na ‘n ander korrektiewe sentrum verskuif sou word waar sy die res van haar vonnis, wat in 2026 verstryk, sou uitdien. Haar paroolvoorwaardes is nie destyds gemeld nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article