Maria Oudtshoorn bied voor- en nageboorteklasse by haar huis in Roodewal aan.


’n Plaaslike vrou bied voor- en nageboorteklasse by haar huis in Roodewal aan.

Maria Oudtshoorn help al die afgelope vyf jaar nuwe mammas om voor te berei vir wanner hulle hul babas in die wêreld gaan bring. Voor sy met hierdie aanbiedinge begin het, het sy haar by die Grow Great Campaign aangesluit waar sy haar kennis verbreed het, veral oor groeibelemmering (stunting) in kinders weens wanvoeding en ander faktore. Nou leer sy swanger vroue oor die belangrikheid van voedsel tydens hul swangerskap en vir hul kinders tot op tweejarige ouderdom.

Dis juis hoekom sy hierdie klasse by haar huis begin aanbied het.

“Ek het gesien in ons gemeenskappe is daar baie min beskikbare inligting oor swangerskap, asook baie onkundigheid oor wat vroue alles tydens hul swangerskap moet doen, dus het ek mammas begin help. Daar was ook ’n groot aanvraag vir sulke soort klasse omdat daar soveel jong mammas en tienerswangerskappe in ons gemeenskap is,” verduidelik Oudtshoorn.

Sy meen ook die tydperk wat ’n vrou swanger is, is die belangrikste tydperk van haar en haar ongebore baba se lewe.

“So ook tot wanneer ’n kind twee jaar oud is. Dit is baie belangrik dat ma’s weet hoe om na hul kinders om te sien en weet hoe om hulle te voed om sodoende verdwerging te bekamp. In Worcester het ons ’n groot probleem met kinders wie se groei belemmer is as gevolg van te min en verkeerde voeding wat hulle in hierdie vroeë jare ontvang.”

Tydens die sessies met die mammas sal Oudtshoorn vir hulle meer leer oor borsvoeding, hoe om gesonde kos vir hulle en hul babas en peuters te maak, ook hoe om hul babas toe te draai en te was. Hierdie is net ’n paar van die onderwerpe wat sy aan die ma’s verduidelik en leer.

“Ek leer hulle ook meer oor asemhalingsoefeninge sodat hulle kan leer hoe om te ontspan. Die mammas word ook geleer hoe om hul babas te masseer.”

Voor die ma’s se babas gebore word, reël sy ook vir hulle ’n ooievaarstee en gee vir hulle ’n sak goedere wat hulle sal benodig wanneer die baba gebore is.

“Ná die baba se geboorte gee ek ook vir hulle ’n kombersie. Ek gee hulle ook ’n boekie wat hulle vir hul babas kan lees. Dit is belangrik om ons kinders al van kleins af aan lees gewoond te maak, en ek gee ook ander artikels wat die kinders help om kleure te leer.”

Oudtshoorn vra R22 per klas, maar daar is steeds diegene wat dit nie kan bekostig nie.

“Ek gebruik dan daai R22 om weer in die mamma terug te ploeg wanneer ek vir hulle hul sakkie gee.

“Soms is daar mammas wat dit nie kan bekostig nie, maar ek help hulle steeds.

“En dit is ook waarom ek graag ’n beroep op die gemeenskap wil doen om hierdie mammas te help.”

Sy verduidelik dat die gemeenskap een ma kan aanneem deur vir elke klas tydens die swangerskap te betaal.

“Ek wil ook vir die gemeenskap vra om iets te ete te skenk. Ek doen tans alles uit my eie sak uit en soms is daar niks om vir die mamma te gee terwyl sy by die klas is nie.”

Mense wat van Maria Oudtshoorn se dienste gebruik wil maak of vir ’n ma se klasse wil betaal, kan haar by 084 899 3866 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article