’n Inwoner van Worcester is verheug en verlig nadat talle rolspelers in die gemeenskap haar gesteelde motor binne ure terugkry het.
Sandra Jaftha en haar buurvrou, Leila Jeftha, het Maandag (30 Januarie) omstreeks 15:30 by die Shoprite-winkelkompleks in Russellstraat gaan inkopies doen. Sy het oudergewoonte in die straat parkeer, waarna hulle ’n paar noodsaaklikhede gaan koop het. Toe hulle egter terugkeer, was haar 2003- Toyota Tazz skoonveld.
“Ons was nie eens 15 minute weg nie. Ons het uitgegaan en my kar was net weg. Ek het aanvanklik geskrik. Soveel goed gaan deur jou kop, maar die eerste ding waaraan ek gedink het, was hoe dankbaar ek was die diewe het ons nie gekaap nie,” vertel Jaftha aan Standard.
Sy vertel haar broer is ’n paar jaar gelede gekaap en toe vermoor, en hierdie aaklige gebeurtenis sal haar altyd bybly.
“Daai gebeurtenis het weer in my kop afgespeel, maar ek het besef ’n kar is ’n aardse ding. Ek kan dit vervang. Dit is darem nie ons lewe nie.”
Jaftha is dadelik terug in die Shoprite-winkel en het ’n kennis van haar, wat toevallig ’n polisiebeampte is, raakgeloop. Hy het dadelik sy hulp aangebied. Sy is verder ook deur die personeel van die winkel bygestaan, wat hulle veiligheidstelsel vir die voorval ingespan het. Die sekuriteitsmaatskappy LTS Sekuriteit asook die polisie was binne minute op die toneel.
“Die polisie het my huis toe geneem en my verklaring afgeneem. Die speurder het sowat 19:40 na my huis gekom, en toe hy aangestap kom, het ek nie goeie nuus verwag nie, maar ek was verbaas – hulle het my kar teruggekry. Ek kon dit nie glo nie, maar die polisie, die veiligheidsmaatskappy en selfs die verkeersdepartement het uit hul pad gegaan om my te help,” voeg sy by.
Jaftha vertel sy kan steeds nie glo haar ryding, waaraan sy redelike sentiment heg, is teruggekry nie.
“Ek het daardie kar gekoop om my oorlede ma by te staan. Alzheimers se siekte is in 2010 by haar gediagnoseer en ek het net besluit ek moet ’n kar koop – dit is makliker as om heeldag met ’n taxi te probeer ry.”
’n Klagte van motordiefstal is aangemeld en ’n ondersoek is van stapel gestuur.
Die voertuig is in Zwelethemba gevind. Dit is nie bekend wat die toestand van die motor is nie, maar Jaftha hoop om haar motor gou terug te kry sodra forensiese deskundiges tevrede is met hul ondersoek.
“Ek is dankbaar vir meneer Wewer, speurder Otto, die Worcester-polisie, LTS Sekuriteit, Worcester se verkeersdepartement en die mense by die winkel wat ons bygestaan het. Ek sal almal ewig dankbaar wees.”





