’n Vrou van Worcester het ’n hofsaak in die hooggeregshof gewen nadat haar vorige werkgewer haar ’n beperking op handel wou laat teken.
Die vrou, ’n swem-instrukteur, het in 2016 by ’n swemskool op Worcester gewerk. “In 2020 het een van die werknemers toe die eienaar uitgekoop. Die nuwe eienaar het toe besluit almal moet nuwe kontrakte teken. Sy het my toe laat weet sy kry nie ’n kontrak vir my nie en ek het toe verduidelik ek en die vorige eienaar het ’n mondelingse ooreenkoms gehad.”
Sy is later ’n kontrak gestuur wat sy moes teken.
“Daar was egter ’n deel van die kontrak waarmee ek nie tevrede was nie. Ons het gepraat en dinge het vir ’n lang tyd heen en weer gegaan. Die deel van die kontrak waarmee ek nie tevrede was nie, het verwys na ’n beperking op handel. Ek wou nie teken nie en het baie navraag hieroor gedoen en mense het my aangeraai om nie te teken nie.”
Sy is ’n vlak 1- geakkrediteerde swem-instrukteur en het terselfdertyd gala-swemmers by ’n ander swemskool afgerig. Die beperking op handel het bepaal sy mag nie by ander swemskole in die dorp of binne ’n radius van 50 km om die dorp swemlesse aanbied nie.
“Ek het toe in November verlede jaar bedank, sonder dat ek ooit die nuwe kontrak geteken het. Later het ek ’n prokureursbrief ontvang, en sy het iets beweer van geïmpliseerde beperking van handel. Ek het toe self ’n prokureur aangestel om my te help. Ná ’n lang proses is die saak toe vroeër vanjaar in die hooggeregshof aangehoor.”
Die regter in die hof het egter die volgende beslis: “Die aansoek word hiermee van die hand gewys. Die applikant word gelas om die koste van hierdie aansoek te betaal, insluitend enige voorbehoue kostebevele, sowel as die kostes van die advokaat.”


