’n 31-jarige vrou van Tulbagh was onlangs die slagoffer van ’n gewapende rooftog terwyl sy bloot haar werksverpligtinge uitgevoer het en ’n kliënt wou bystaan.
Zineths Cronjé het Maandag 5 September soos elke ander dag by haar werkplek in Tulbagh se hoofstraat vir diens aangemeld. Nooit sou sy dink dat sy ure ná oopmaaktyd die slagoffer van ’n rooftog sou wees nie.
Sy vertel sy was omstreeks elfuur die oggend besig om ’n kliënt te help wat met ’n kaarttransaksie gesukkel het. Nog ’n man was in dié winkel en sy het hom aanvanklik as gaaf en hulpvaardig opgesom. Min het sy geweet sy sou minute later in die kloue van dié “gawe man” vasgevang sit en vir haar volgende asem smeek.
“Die een vrou se kaart wou nie werk nie en sy moes geld gaan trek om vir haar aankope te betaal. Dié man moes sekerlik gesien het dat ons geld in die winkel het.”
Sy sê die man het ’n ander kliënt gehelp items aandra en kort-kort na produkte gekyk.
Die man, wat sy skat sekerlik in sy 30’s is, het toe gevra of sy kaarttransaksie ook gaan misluk, waarna Conradie hom gerusgestel en gesê het sy is onseker, maar sy sal hom help.
“Hy het toe ’n hondeleiband van die rak afgehaal en op die toonbank neergesit. Ek het agtergekom dat die prys se kode af is en besef nou dit was ’n taktiek sodat ek agter die toonbank moes uitkom,” voeg Conradie by.
’n Yskas met koeldrank staan in die hoek van die winkel (skuins agter die toonbank). Hy het haar gevra of daar Coke in die yskas is, waarna sy gesê het dit is inderdaad beskikbaar.
“Hy het ’n blikke uitgehaal en vir my agter die toonbank aangegee. Dit moes hom genoeg kans gegee het om deeglike inspeksie te doen van wat aangaan. Ek is toe uit om die kode van die leiband te kry, en dit is toe hy my van agter af gryp.”
Cronjé verduidelik hoe sy deur die onbekende man vasgedruk en gewurg is – tot so ’n mate dat sy nie kon asem kry nie. Hy het haar hardhandig hanteer en op ’n tydstip met ’n mes teen die grond gedwing.
“Ek was op my knieë. Hy het my mond toegedruk en my gewurg terwyl hy my gedreig het hy sal my met die mes steek. Hy het my gevra waar my selfoon is en geld geëis. Ek kon nie praat nie. Ek het na die toonbank beduie, want ek het gedink my foon is daar, maar dit was toe in my sak. Al wat ek onthou, is dat ek vir ’n oomblik my bewussyn verloor het.”
Oomblikke later is al wat Cronjé onthou hoe sy weer agter die toonbank wakker word, pap geslaan is en hy haar toe twee keer met ’n skokstok bygekom het.
“Ek het besef my foon is in my sak en dit vir hom gegee. Hy het toe geld ook gevat. Ek was in só ’n toestand dat hy basies enigiets kon vat wat hy wou hê. Hy is by die deur uit en ek is enkele oomblikke daarna agterna, maar hy was net weg,” vertel sy verder.
Cronjé sê sy het ’n saak by die plaaslike polisiekantoor aangemeld, en gesê daar is moontlike leidrade oor wie hy kan wees. In dié stadium verneem Standard die ondersoek duur nog voort.
“Ek vrees nog vir my lewe. Dit was ’n groot skok. Dinge kon erger uitgedraai het. Toe ek die volgende dag terug is na die winkel, het ek gesien die leiband lê nog in die hoek van die winkel waar hy my gegryp het. Hy wou my seker daarmee verwurg.”
In hierdie stadium klaar Cronjé se kneusplekke en wonde nog op. Haar oë is effens geswel en sy sê die merke aan haar keel en mond herstel mooi.
* Die naam van die onderneming asook ’n foto van die slagoffer word om veiligheidsredes weerhou.



