’n Interkerklike biddag vir Suid-Afrika gaan op Versoeningsdag 16 Desember om 10:00 op Worcester se kerkplein gehou word.
Die Voortrekkers het dié biddag geïnisieer. Dié beweging is vanjaar 85 jaar oud en word tans gekenmerk deur ongekende groei en vooruitgang.
“Tydens hierdie geleentheid wil ons plaaslike geestelike kunstenaars nooi om op te tree en aan leraars, pastore en priesters van reg oor die streek heen die geleentheid gee om te bid vir ’n spesifieke onderwerp van belang vir ons land,” sê organiseerders.
Onderwerpe waaroor gebid gaan word is onder meer die droogte, huwelike, geestelike herlewing, genesing, misdaad en leierskap. Die fokus is op vrede, versoening en geestelike herlewing in Suid Afrika, sê organiseerders.
“Ons beskou Worcester as die ideale plek om hierdie projek van stapel te stuur, aangesien dit sentraal geleë is, multikultureel is, en verteenwoordigend is van ons land se hele bevolking.”
Besoekers kan kampstoele of piekniekkomberse bring om op te sit. Die Voortrekkers is ’n niewinsgewende, Afrikaanse jeugbeweging wat hom toespits daarop om moderne Afrikanerskap, burgerskap en Christenskap in Suid Afrika en Namibië te bevorder.

