’n Blok shiraz van die plaas Voorsorg het met die louere in VinPro en Winetech se jaarlikse wingerdblokkompetisie in die Worcester- en Breedekloofstreke weggestap.
“Die tema van vanjaar se evaluering was shiraz, en die gehalte van die inskrywings was indrukwekkend,” sê Pierre Snyman, VinPro se wingerdboukundige konsultant vir die Worcester-streek.
Volgens hom het LP Moller van Voorsorg die Smart Dyson-opleistelsel, wat ongewoon in hierdie gebied is, baie goed bestuur.
“Al die drade is op hul plek en die afbuig van die helfte van die lote is goed uitgevoer. Ondanks die feit dat die wingerd teen ’n hang en op twee duidelike grondtipes groei, het LP ook sy wingerd só bestuur dat die wingerd egalig groei en die lower en drag in balans is,” sê Snyman. Die shiraz-blok is op Paulsen geënt en die druiwe van hierdie blok word aan uniWines Kelder gelewer.
Bruno Suter van die plaas Crush Alba het die tweede plek behaal met ’n blok shiraz op R110 geënt en op ’n vyfdraadheining opgelei. Jannie du Toit van Swartwalle se shiraz, op Ruggeri 140 geënt en op ’n vierdraad verlengde Perold opgelei, was derde.
Die VinPro/Winetech-wingerdblokkompetisie word jaarliks in die onderskeie streke aangebied om beste wyndruifverbouingspraktyke te identifiseer, te vier en met die bedryf te deel. ’n Boeredag is 24 Januarie aangebied waartydens die praktyke van die wenblok gedemonstreer en ander tegniese inligting oorgedra is.
Goeie mierbeheer is ’n kritieke deel van elke produsent se witluisbeheer- strategie. Volgens Dirk van Eeden van InteliGro is die monitering van witluisgetalle asook die beheer daarvan deur ’n kombinasie van natuurlike vyande en chemiese beheerprogramme, noodsaaklik om ’n gesonde wingerd te verseker.
“Die gebruik van die natuurlike produkte Aroma en Mature lei tot dikker druiwedoppe en uiteindelike beter tannienstruktuur. Sauvignon blanc reageer veral goed op die gebruik van Aroma,” het Piet Laubser van Lallemand by die boeredag vertel.
Wyndruifprodusente kan gratis van die Fruitlook-bestuurshulpmiddel gebruik maak om hul wingerde meer noukeurig te meet en bestuur. Jakobus Els het visueel voorgestel hoe die stelsel, wat deur die Wes-Kaapse departement van landbou gefinansier word, in die praktyk gebruik word.
By ’n wynproe van verskeie style shiraz het Riaan Möller van MAN Family Wines gedemonstreer hoe die chemiese komponent rotundone vir dié kultivar sy kenmerkende peperagtige smaak gee.



