Reddingswerkers haal Sondag die lyk van ’n drenkeling uit die Breederivier.Foto: Ismail’s Towing

Credit: SYSTEM

’nJong man van Worcester was vandeesweek die slagoffer van die meesleurende oorstromings wat die vallei getref het nadat hy vir sy lewe gevlug en die rivier probeer oorsteek het om ’n gewelddadige aanval te ontduik.

Die 19-jarige Clinton Jansen van Riverview se lyk is die afgelope Sondag (18 Junie) om 17:20 in die Breederivier naby Johnsonspark in Worcester gevind.

Volgens AO Grant Stynder, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie, is die polisie die middag gekontak deur die publiek wat gesien het hoe manne drie ander mans agternasit – in die rigting van die Breederivier.

“Volgens getuies was drie mans [te voet] op pad na Roodewal van Riverview af deur Hexpark.

“Toe die mans by Hexpark kom, is hulle deur ander mans gejaag,” volgens Stynder.

Die voorval het die drie genoop om na die Breederivier te hardloop en die oorvol rivier aan te durf.

“Al drie mans het in die rivier gespring, maar slegs twee het aan die ander kant uitgekom,” het Stynder gesê.

Die derde man het verdrink.

Dié voorval het omstreeks 15:30 plaasgevind.

Worcester se ER24-ambulansdienste asook die plaaslike brandweer is ontbied om te help om die lyk uit die rivier te haal.

Volgens ’n bron na aan die familie was die voorval bendeverwant, maar hy het ontken dat Clinton ’n lid van ’n bende was.

Volgens die familielid het Clinton en twee ander mans “in die deel bekend as die hokke” gesit en gesels toe hulle deur drie ander mans aangeval is.

Hulle het in die rigting van die Breederivier gevlug om die aanval te ontduik, maar dit het lelik skeefgeloop.

Die rivier was aansienlik sterker as wat verwag is en stormweer het gewoed.

Standard het ook na een van die twee mans wat saam met Jansen gevlug het, uitgereik.

Volgens hom het hy en sy vriende by die “P-blok” gesels, waarna hul deur “Bloedrivier” geloop en daar agtergekom het hulle word agtervolg.

“Toe ons by die veld kom, het die manne geskree ons moet stil staan, maar toe kom daar ’n hele team van 11 of 12 mense aangehardloop.”

Jansen en sy vriende het toe in die rigting van die rivier gehardloop en besluit om deur dit na die ander kant te stap. Nietemnin, as gevolg van die stormagtige water weens die baie reën is Jansen deur ’n stroom meegesleur waar hy blykbaar sy kop teen ’n klip gekap het, volgens Jansen se vriend.

“Ek het dit alles gesien gebeur,” het hy vertel.

Terwyl die ander twee mans hul pad na die ander kant van die rivier gevind het, het die ander groep mans hulle met klippe gegooi.

Weens die oorvol rivier kon die twee mans nie na die ander kant swem nie, en hulle het geswem-dryf na Johsonspark, sowat twee kilometer verder, waar hulle uitgeklim het.

Die Worcester-polisie kon nie bevestig dat die voorval bendeverwant was of dat die drie mans agtervolg is nie.

Omdat hulle geen praktiese bewyse vir dié beweringe het nie, word slegs ’n saak van verdrinking ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article