Die Breedevallei-gemeenskapskrieket-vereniging (Vlakkiekrieket) hou op 1 Oktober sy jaarvergadering waar hy ’n nuwe bestuur gaan kies om die leisels vir twee jaar te neem.
Die jaarvergadering sal in die Geel Gebou in Taambaystraat, Worcester, gehou word en huidige klubs asook nuwe klubs word hartlik uitgenooi om dit by te woon.
Tans is 26 klubs lid van die BVGKA, wat dit een van die grootste gemeenskapsorganisasies in die Breedevallei maak. Die assosiasie is ’n organisasie sonder winsoogmerk, wat daarna streef om krieket in die Vallei gesond te reguleer, te administreer en te beheer.
Verskeie vakansie-programme, wat toernooie vir seuns o.14 en o.16 insluit, word jaarliks gereël waaronder die huidige o.16-Burgermeesters-toernooi, waaraan agt spanne deelneem.
Vlakkiekrieket is ook ’n geweldige voedingsbron vir verskeie hardebal-organisasies in Worcester, soos binnenshuise krieket, waaruit verskeie spelers reeds in provinsiale en selfs nasionale spanne opgeneem word.
Finansiële ondersteuning bly egter ’n groot uitdaging en die jong spelers moet self probeer inkomste genereer om die koste van toere en toernooie te dek.
Op hierdie manier word ’n gewone Vlakkiekrieketspeler se droom om sy/haar talent ten toon te stel, soms gekortwiek omdat omstandighede tuis dit nie altyd moontlik maak om op groot toernooie te gaan nie.
Wat egter soos ’n paal bo water staan, is die feit dat Vlakkiekrieket baie belangrike talente kweek, waarvan verskeie hardebalorganisasies die vrugte pluk. Ná die jaarvergadering en met ’n nuwe bestuur behoort die vereniging op al sy silinders te vuur en amptelike toernooie binnekort te begin aanbied en die gemeenskap van die Breedevallei kan verwag om eersdaags op skitterende krieket getrakteer te word.. Vir meer inligting oor die Breedevallei-gemeenskap-krieketvereniging en die jaarvergadering, kontak Japie Visser by 061 596 8055 of japievisser42@gmail.com.




