Wolseley, wat ná twee puik vertonings versigtig optimisties was dat hy dalk die gerespekteerde Bella Vista op sy onoorwonne lopie in die Witsentraal-streek sou kon stuit, het weer eens op die harde manier geleer dat sukses net ’n week lank duur.
Bella Vista, wat met sy groot getal ondersteuners opgedaag het, het baie meer vermag as waarop hy gehoop het – nie net het hy Wolseley met ’n bonuspunt-oorwinning 34-0 (rustyd 10-0) afgeransel nie, maar terselfdertyd die nuwe voorlopers in die Witsentraal-streek geword, wat hom een punt bo Roses United plaas, met Hamlet nou in die derde plek.
Daardeur het Bella Vista bewys waarom hy as die span van die oomblik in die streek beskou word. Sy spel toon soveel wasdom en dwing net soveel respek af waar Bella Vista ook al gaan. Wolseley, aan die ander kant, was nie werklik in die prentjie nie en net ’n skadu van die twee vorige weke, en aangesien hy meestal op die agtervoet was, kon dié span nooit ’n kleim op die wedstryd afsteek nie.
Daarvoor was Bella net te intelligent.
Die grondslag van Bella Vista se oorwinning is sy stewige pak voorspelers, wat Wolseley geheel en al oorheers het. Die span was – soos hul wapen aandui – vreesloos, maar ook genadeloos in die manier waarop hulle die span se gesag op Wolseley afgedwing het.
Die hemelbesem-slot Elcardo Baadjies was ’n toring van krag in die lynstane terwyl die skrums, dryfmaalbewegings en handspoed heel indrukwekkend was – iets waarteen Wolseley nie opgewasse genoeg was nie.
Wolseley het alles uitgehaal om die blou golf in toom te hou, maar die aanslag was soms hewig en vreesloos.
Danksy die voorspelers se goeie werk voorlangs, het die agterspelers die afrondingswerk op indrukwekkende wyse deurgevoer. Hier het die skakelpaar Rowan Wildschutte op nommer 9 en die nommer 10, Clayton Isaacs, met ’n netjiese afgeronde vertoning telkens die oog gevang. Sy aanvoeling van die spel, visie en die pragtige manier hoe hy sy medespelers beskerm en in spel geplaas het, was iets om te aanskou. Dit het die senterpaar Camron Davids en Curtley Cedras in hul natuurlike spel laat floreer, met die heelagter, Warren Seroot, in ’n klas van sy eie. Bella Vista se spoed waarmee die span sy avontuurlustigheid uitgedruk het, was indrukwekkend en soms vreesaanjaend, wat chaos in Wolseley se verdediging gesaai het.
Die mees inspirerende aspek van Bella Vista se sege was die besielende spel van sy haker en kaptein, Chesville Muller, wat die hele veld vol gespeel het en sy lyf met flink balhantering en vinnige hande soos ’n wafferse agterspeler rondgegooi het. As eerste ontvanger was hy dikwels ’n uitstekende skakel tussen die voor- en agterspelers.
Vir Wolseley is dit terug tekenbord toe, want die nederlaag beteken hy bevind hom van ’n gunstige sesde posisie op die punteleer nou in die agste plek – binne trefafstand van die houtlepeldraers.
Bella se punte het bestaan uit drieë deur Warren Seroot, Niel Adendorf, Lorenzo Boer, Jayten Martin en Leon Claasen. Clayton Isaacs, Keenen Wessels en Jared Manus het elk een verdoel, terwyl Isaacs ook ’n strafdoel oorgeklits het.
Ander uitslae van die dag:
Wolseley B 13 – 12 Bella Vista B
Wolseley C 30 – 22 Bella Vista C

