MONTAGU – Villagers Montagu (Sesduim) moes die afgelope Saterdag (24 Mei) hard werk en veral in die tweede helfte kwaai walgooi om ‘n omgekrapte Swellendam (Swellies) van sy doellyn af weg te hou.
Dié twee spanne was verlede Saterdag in hul laaste eersterondewedstryd van die Grootuitdaagliga in ‘n geweldige fisieke stryd op die King Edward-sportveld slaags. Weens die intensiteit van die kragmeting was ‘n geniepsigtigheid by sekere spelers te bespeur.
Die skeidsregter, Richard Faro, van die Witzenbergstreek, het die besoekers met drie geelkaarte gestraf, terwyl die tuisspan een ontvang het. Tog was dit die besoekers wat eerste die telbord met ‘n strafdoel aan die gang gekry het.
Liam Pekeur, linkervleuel van die tuisspan en wat weer uitstaande spel gelewer het, het sake gelyk gemaak toe hy ook ‘n strafdoel deur die pale gestuur het.
Trouens, Pekeur het 21 van sy span se punte aangeteken. Danksy Pekeur se groot oes aan punte in die eerste helfte – een drie, ‘n doelskop en drie strafdoele – en ‘n strafdrie wat deur die skeidsregter toege-ken is, was Sesduim met rustyd met 23-10 goed in beheer van die wedstryd.
In die tweede helfte het die momentum na die besoekers toe geswaai. Swellies het merkwaardig teruggeveg en mettertyd die telling – ná twee drieë en ‘n doelskop – tot 23-22 gevoer.
Met die uurglas wat stadig leeg geloop het, het die tuisspan sy hande behoorlik vol gehad om die omgesukkelde Swellies, wat gedreig het om die wedstryd te gaps, van sy doellyn weg te hou. In sy despe-raatheid om sy neus weer voor te kry, het Swellies in sy eie kwartgebied ‘n hanteerfout begaan, wat tot Pekeur se tweede drie gelei het.
Tog het die besoekers nie gaan lê nie; hulle het steeds met groot ondernemingsgees gespeel.
Maar Sesduim het met mag en mening aan sy sespuntvoorsprong geklou om die wedstryd uiteindelik met 28-22 in sy guns te beklink. – Norman Evertson




