Worcester Villagers, of sommer net Villa, soos hy in die volksmond – maar veral onder sy honderde lojale ondersteuners – bekend staan, het Saterdag (14 Junie) op Bolandpark in ‘n drieëfees sy besoekers, Blue Birds van Bonnievale, met 63-43 geklop. In die proses het hy agt skitterende drieë ingeryg terwyl Blue Birds nooit bes gegee het nie en self ses drieë gedruk en ‘n welkome bonuspunt verdien het.

Die wedstryd self het op ‘n hoë noot vir die tuisspan afgeskop toe die skrumskakel, Gurshwin Africa, binne die eerste minuut met ‘n strafskop slaag ná ‘n oortreding deur Villa se teenstanders in hul eie gebied. Kort hierna het Blue Birds hul rekening geopen nadat ‘n bal vir hul spoedvraat-regtervleuel, Lleyten Davids, reg gespring en hy met spoed afgerond het.

Die heelagter, Teslin du Toit, het verdoel om die besoekers met 7-3 te laat voorloop. Kort hierna het hul voorsprong gerek toe die einste Davids met ‘n strafskop slaag (10-3-voorsprong), gevolg deur Villa wat sake gelyk het toe sy binnesenter, Innocent Johannes, ná ‘n volle agterlyn-beweging in die hoek afgerond en Africa skitterend uit die hoekie verdoel het. Johannes is egter in die proses beseer en is deur Percy Basson vervang.

Villa het kort hierna weer sy neus voor gekry toe Africa met nog ‘n strafskop slaag. Villa het sy voorsprong verder gerek toe die debutant en linkervleuel, Jivanno Melouw, ‘n onvervyfde drie gedruk het. Basson het onmiddellik sy teenwoordigheid laat geld toe hy hierna oorgegaan en Africa verdoel het om Villa met 25-10 te laat voorloop. Die Bonnievalers het egter nooit bes gegee nie en met mening teruggeslaan toe eers die flank Christo Cloete vir ‘n onver- vyfde drie oor is en Durell du Toit (agsteman) hierna dieselfde gedoen en Du Toit verdoel het om die besoekers teen rustyd met slegs 22-25 te laat agterloop.

Kort ná rustyd het Birds die voortou geneem toe Davids op identiese wyse soos in die eerste helfte gaan druk en Du Toit verdoel het om die besoekers met 29-25 te laat voorloop. Kort hierna het Africa met sy derde strafskop geslaag en die agterstand na 28-29 laat krimp en Villa die voortou neem toe die plaasvervanger-haker kort ná sy toetrede oor is vir ‘n drie wat Africa verdoel het. Die voorsprong het verder gerek toe die slot Kyle Jacobs oorgaan en Africa verdoel het. Nog was dit egter het einde niet, want Blue birds het met ‘n blitzkrieg drieë deur die agsteman Du Toit en skrumskakel Tayler Barkley gekom, wat albei deur Teslin du Toit verdoel is. Villa het egter laaste gelag toe Basson in vir sy tweede drie oor is en die losskakel Girshwin Joubert verdoel het om die eindtelling op 63-43 te staan te bring.

Villa se naasbestes het Blue Birds se B-span in ‘n eensydige hoofvoorwedstryd met 75-0 geklop. – Alver Uys

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article