In ’n taamlik eensydige Grootuitdaagbekerwedstryd in die Langeberg-afdeling van die Boland-rugbyunie het Worcester Villagers, of Villa, soos hulle alom bekend staan, die afgelope Saterdag (24 Augustus) op Bolandpark die Rangers Robertson, of “Never Die”, soos hulle in die volksmond bekend staan, met 71-19 getroef nadat hulle teen rustyd reeds met 26-5 voorgeloop en toe al ’n bonuspunt verwerf het.
Villa het die wedstryd afgeskop met ’n fris briesie in sy guns en sommer vroeg-vroeg sy stempel afgedruk toe die slot Kyle Jacobs ná volgehoue druk onder die pale oorgaan vir die eerste drie, en die losskakel, Austin Hendricks, verdoel het. Hulle het kort hierna ’n onvervyfde drie bygekry toe die kaptein en agsteman, Edward Haas, oor is nadat sy agttal ná ’n lynstaan die besoekers meters ver in trurat gehad het. Die telling groei aan na 19-0 toe die skrumskakel, Gurshwin Africa, ná ’n slim stukkie spel gedruk en Hendricks verdoel het. Rangers kry hul eerste punte op die telbord toe die flank Steven Johnson oorgaan vir ’n drie wat sy losskakel, Dawie Conradie, nie kon verdoel nie. Jacobs het kort voor rustyd sy tweede drie gedruk, wat Hendricks verdoel het. Dit het Villa se bonuspunt (vir vier drieë) verseker.
Kort ná die aanvang van die tweede helfte het Villa weer punte gekry toe sy woelwater-flank Mario Marinus ná puik samespel tussen agter- en voorspelers oorgegaan en Hendricks weer verdoel het. Rangers het egter nooit bes gegee nie en is met ’n sewepunter beloon toe sy buitesenter, Navan Padiachy, onder die pale oorgaan en Conradie verdoel het om die agterstand na 12-33 te laat krimp. Villa het weer sy voorsprong gerek toe die plaasvervangerhaker Anthony Verhoog ’n onvervyfde drie gedruk het. Die telling was 45-12 toe Africa oorgaan vir sy tweede drie en Hendricks verdoel weer. Hierna het “Never Die” sy derde en laaste drie gedruk toe sy plaasvervangerheelagter Nicol Johnson gedruk en Conradie verdoel het (telling op 45-19).
Villa het volle beheer geneem en sy binnesenter Jadrian de Klerk het ’n drie gedruk wat Hendricks verdoel het (telling 52-19).
Daarna het die telling tot 57-19 gegroei toe die regtervleuel, Wayne Plaatjies, oor is vir ’n onvervyfde drie, gevolg deur die flank Bradman (Bull) Grove vir ’n drie wat sy plaasvervanger-losskakel Carick Kustoor verdoel het. Kort hierna is Kustoor self oor vir sy drie wat hy boonop self verdoel het om die eindtelling op 71-19 te staan te bring.
Villa se naasbestes het Rangers B in ’n aanskoulike hoofvoorwedstryd 22-8 geklop terwyl Villa se derde span 8-3 teen Rangers C gewen het.
Saterdag (31 Augustus) speel Villa weer tuis op Bolandpark wanneer hy teen Blue Birds van Bonnievale in die voorlaaste liga-wedstryd te staan kom.




