In ’n redelik eensydige Top-12-kragmeting op Bolandpark het Villagers Worcester Saterdag (19 Oktober) vriend en vyand lekker verras deur Abbotsdale van Malmesbury, oftewel Lillies, soos hulle onder hul ondersteuners bekendstaan, met 55-8 te klop. Teen rustyd was die wenspan met 24-3 voor en ook reeds van ’n bonuspunt vir vier drieë verseker.
Hoewel Villa met mening begin het, het Lillies verskeie aanslae suksesvol afgeweer.
Villa se regtervleuel, Juan (Coper) Williams, is ná kragtige lopies twee keer met skitterende dekverdediging treë van die opponente se doellyn gestuit.
Villa open sy rekening toe sy drieëvraat, die linkervleuel Cubitt Micheals, oorgaan ná slim spel deur sy deurwinterde skrumskakel, Gurshwin Africa. Met die geslaagde doelskop deur die losskakel, Austin Hendricks, loop Villa vroeg met 7-0 voor.
Dit word kort hierna 12-0 toe sy woelwater-haker, Greyling Geldenhuys, ’n onvervyfde drie gaan druk.
Lillies open sy rekening toe sy buitesenter, Percual Abdol, met ’n netjiese strafskop ná ’n Villa-oortreding slaag.
Villa se loskopstut, Anele Zingitwa, gaan hierna oor vir sy span se derde drie, wat Hendricks ook verdoel voordat die buitesenter, Henrico Jacobs, kort voor rustyd oorgaan vir Villagers Worcester se (onverdoelde) bonuspunt-drie.
Vroeg in die tweede helfte gaan die flank Brandman (Bull) Grove oor vir sy drie, wat ook nie verdoel kon word nie.
Villa is weer goed in beheer en ná volgehoue druk gaan Africa onder die pale oor vir ’n drie.
Villa stuur nou sy bombsquad op en die vlugvoetige Mario Marinus betree skaars die veld of hy laat byna die helfte van sy teenstanders in die lug gryp voordat hy Africa voer om weer onder die pale te gaan kuier.
Met Hendricks se geslaagde doelskop loop Villa nou met 43-3 voor.
Kort hierna gaan druk die agsteman en kaptein, Edward Haas, en skop die plaasvervanger-losskakel Gurshwin Joubert oor om Villa met 50-3 te laat voorloop.
Lillies gee steeds nie bes nie en kry ’n troosdrie toe die binnesenter, Godwin Jacobs, gaan druk.
En die plaasvervanger-haker, O’Ryann Jack, met flink voetwerk, gaan druk om die wenspan se negende drie te druk en die eindtelling is 55-8.
. Met die derde ronde van die Boland Top-12 rugbykompetisie, speel Worcester Villagers teen Vredenburg in die Weskus Saterdag. Maar Villa ondersteuners van Worcester wat nie die reis na Vredenburg kan meemaak nie, kan gerusgestel wees, want hulle kan hier in Worcester na die wedstryd kyk.
Dit is te danke aan Vuma, wat ’n Top-12 Fan Park by die Roodewal-woonstelle se A-Blok vir alle Villa ondersteuners borg.
Die wedstryd gaan regstreeks op ’n grootskerm uitgesaai word en dit gaan ’n dag van groot pret wees met baie pryse wat op die spel sal wees.
Die Fan Park begin om 14.00 en almal word uitgenooi om hul geliefde Villas op tuisbodem te kom ondersteun.





