Worcester Villagers, oftewel Villa, het Saterdag in Esselenpark-stadion gewys hy hou hierdie jaar ’n besliste bedreiging vir ander spanne in die Langeberg-afdeling van die Grootuitdaagbeker in die Boland in toe hy die hoogaangeskrewe Ceres- rugbyklub met 41-21 die loef afgesteek het nadat hy teen rustyd slegs 19-14 voor was.
Villa het van meet af aan geweldige druk – veral voorlangs – toegepas en die meeste aanvalswerk gedoen. ’n Gebrek aan afronding het hom egter veral in die eerste paar minute gekniehalter. Villa het egter wel punte gekry toe sy blitsige regtervleuel, Kevin Philander, sommer vroeg in die eerste helfte agter die doellyn gaan kuier en die losskakel Gurshwin Joubert boonop verdoel het om die telling op 7-0 te staan te bring.
Die telling het tot 12-0 gestyg toe Philander se vleuelmaat, Cubbit Micheals, ná omgekeerde balbesit gaan druk het. Joubert se doelskop het egter net-net regs verby getrek.
Ceres het sy voete begin vind en ná geweldige druk is sy beweeglike loskopstut, Jan Ras van de Linde, met brute krag oor. Die heelagter, Corné du Plessis, het verdoel om die agterstand te laat krimp.
Nou behoorlik aangevuur het Ceres kort hierna voorgeloop toe sy skrumskakel, Bradley Sass, skerp gebreek en ’n drie gedruk het, wat Du Plessis ook verdoel het om Ceres 14-12 te laat voorloop. Villa het kort voor rustyd sy voorsprong herwin toe die flank Zaden Adams skitterend gebreek het, en toe hy voorgekeer word, was die alomteenwoordige skrumskakel, Chris Daniels, by om onder die pale af te rond. Die binnesenter, Dadrian de Klerk, se doelskop het Villa met ’n 19-14-voorsprong gaan laat water drink.
Kort ná rustyd het Villa sy voorsprong gerek toe Micheals ’n mooi lopie ingekry het, en toe hy voorgekeer word, was Joubert by om te gaan druk. De Klerk se doelskop was ongelukkig regs verby. Kort hierna het die flank Mario Marinus skitterend gebreek en toe hy kort voor die lyn neergetrek word, was De klerk by om te gaan druk.
Die plaasvervanger-heelagter Roland Daniels het verdoel om Villa se voorsprong na 31-14 te rek. Kort hierna het die plaasvervanger-linkervleuel John van Neel afgerond nadat voor- en agterspelers die bal in tandem lekker lug gegee het. Die doelskop was egter links verby. Die flank Nathan Pedro het hierna nog ’n onvervyfde drie gedruk, wat die voosprong na 41-14 gerek het.
Kort voor die einde het Van de Linde oorgeduik vir ’n troosdrie vir Ceres en met sy losskakel, William van Wyk, se geslaagde doelskop het die wedstryd geëindig met Villa wat met 41-21 as oorwinnaars uit die stryd getree het.
Ceres se naasbestes het 24-12 gewen terwyl Villa se derdes met 17-0 in die eerste wedstryd van die dag bo was.. Villa speel Saterdag (17 Februarie) sy vierde vriendskaplike wedstryd weg teen Proteas in De Doorns.





