Die sokkerklub View of Hope het sy seisoen Saterdag (28 Mei) op ’n baie hoë noot afgesluit.
Dié superligaspan het alle verwagtinge oortref deur hom in sy eerste seisoen as senior span besonder goed van sy taak te kwyt.
Vir Saterdag se laaste wedstryd het View of Hope pasella punte gekry omdat Dream Team van De Doorns nie opgedaag het nie. Die span het dus halfpad teen die punteleer op geëindig.
Die promosiespan het Saterdag in die hoofwedstryd van die dag teen die onvoorspelbare XI Experience te staan gekom. Vir Hope was die wedstryd ’n belangrike een van die seisoen.
Hope het die wedstryd omsigtig benader omdat Experience nie sommer verniet die “trots van die Gattas” genoem word nie.
Die span van View het vroeg gewys wat in hom steek toe Fabian (Faba) Esterhuizen ’n uitmuntende doel aangeteken het om Hope 0-1 te laat voorloop. Wat hierdie doel so merkwaardig maak, is die feit dat Faba pas terug is ná ’n langdurige besering.
Experience het hom nie laat afsit met die doel nie en op sy spelpatroon gefokus deur Hope in die middelveld by te dam.
Maar met die vlugvoetige Kelvin Butland, Jonathan Prins en Ridiwaan van Rooi in Hope se midde, was dit sommer vroeg duidelik dat hy niks hier gaan regkry nie, want die Hope-trio het tot dusver geen gelyke in die liga gehad nie.
Experience se afrigter het ook ná die wedstryd genoem hy het sy spelers gevra om meer “geduldig op die bal” te wees, maar alles was verniet. Hope se tweede doel het juis vanuit die oorheersing in die middelveld gekom toe Dimitri van Rooi ’n aangee van Ridiwaan van Rooi goed bemeester en die tweede doel aangeteken het (0-2). Dit was ook die rustydtelling.
Ná rustyd, met die wind nou in Hope se gesig, het die wenspan met meer aggressie gespeel en baie beter balbeheer toegepas. Ná tien minute se spel het Faba sy tweede doel aangeteken om Hope 0-3 te laat voorloop.
Die gemak waarmee Hope die wedstryd beheer het, was duidelik toe Experience se speler in ’n stryery met die skeidsregter betrokke geraak het en met ’n rooikaart gestraf is. Met drie doele agter en nou net tien spelers op die veld, was dit duidelik dat die agtermiddag vir die manne van die Gattas lank gaan word.
Dimitri is met nog een van Hope se aanvalle in die doelhok platgetrek. Die kaptein, Dillon Fortuin, het die doelskop aan Faba toegeken om sy driekuns te voltooi.
Die linksvoetige Faba het die bal met sy regtervoet by Experience se doelhok ingestuur (0-4).
Die Hope-verdedigingslinie moet opnuut gelukgewens word nadat hy eers vir Caden Pass in die eerste helfte en daarna vir Sandro Jaftha in die tweede helfte in die doelhok opgepas het.
Die wedstryd het egter nie geëindig voordat Dimitri (Meaty) van Rooi ook sy tweede doel deur die pale gestuur het nie (0-5).
’n Speler wat ’n barshou gespeel en baie goed tussen die voor- en agterspelers gekombineer het, Ridiwaan van Rooi, was baie ongelukkig om nie ook sy doel te kry nie. Die wedstryd het later 0-5 in die besoekers van Riverview se guns afgesluit.
Die afrigtingspan van Lionel Minnaar en Oom Haboy Anthony het die titel van speler van die wedstryd aan Fabian Esterhuizen en Dillon Fortuin vir hul puik spel toegeken.




