Twee barmhartige samaritane het Sondag lewens gered toe hulle insittendes uit ’n voertuig gered het minute voor dit vlam gevat het.
Die ongeluk het helder oordag by Mouwershoogte tussen Robertson en Worcester gebeur. Die voertuig het in die rigting van Robertson gery ten tyde van die ongeluk. Dit blyk die bestuurder van die motor het beheer oor die voertuig verloor voordat dit die pad verlaat het.
“Twee kinders en albei hul ouers is betyds uit die voertuig gered voordat dit deur vlamme verswelg is,” het iemand met kennis oor die ongeluk aan Standard gesê.
Marianne de Kock, een van die mense wat stilgehou het, verduidelik aan Standard wat gebeur het.
“Ons was op pad huis toe uit Stellenbosch. Hierdie motor het heeltyd links en regs geswaai voor ons. Ek het toe maar ver agter hulle gery en net so 10 km voor Rooiberg, toe ons om die draai kom, het die motor skielik regs gedraai en van die pad af gegaan. Ek was gelukkig ver genoeg agter hulle om betyds te stop. Daar het nog ’n motor agter my afgetrek. Die ouer seun het self uit die motor gekruip en hy het ’n kopwond gehad.
“Ek het toe gesien daar is ’n jonger seuntjie en het hom uit die motor gehelp. Die kinders se pa het ook self uit die motor geklim terwyl iemand anders die vrou uit die motor gehelp het. Die pa het ook ’n kopwond gehad en dit het gelyk asof die vrou se arm beseer is.”
Sy verduidelik ook die polisie het nie lank ná haar nie daar stilgehou, en kort daarna het die motor vlamgevat.
“Dit was so ongeveer 5 tot 10 minute nadat die gesin uit die motor is dat dit begin brand het. Daar het reeds rook uit die voertuig getrek toe dit op sy dak beland het. Nie lank daarna nie was alle nooddienste op die toneel.”
Sy erken ook dat sy ná haar dapperheid ’n bietjie senuweeagtig gevoel het. “ ’n Mens dink mos maar altyd agterna oor wat alles kon skeefgeloop het. Maar ek glo ook dat dit almal se plig is om hul deel te doen. Niemand stop meer vir mekaar nie en ons moet mekaar bystaan.”




