Die mense wat Saterdag met hul motor in die rivier beland het, het geen ernstige beserings opgedoen nie. Foto: Ismail’s Towing


Twee mense was Saterdagaand in ’n motor in ’n rivier in Robertson vasgekeer.

Volgens ’n woordvoerder van die Robertson-polisie het die motor omstreeks 19:45 oor die lae brug in Johan de Jongh Rylaan gery toe dit meegesleur is.

“Dit het naby Korrektiewe Dienste gebeur,” se die woordvoerder.

Hy verduidelik ook die rivier het ten tyde van die voorval vinnig geloop.

“Die rivier was in vloed en het toe die voertuig met die twee insittendes meegesleur. Hulle was in die voertuig vasgekeer nadat dit vermoedelik in ’n sloot in die rivier beland het.”

Verskeie nooddienswerkers het drie ure aaneen gewerk om die twee uit die voertuig te red en die wrak uit die rivier te verwyder.

“(Die insittendes is) ná amper drie ure deur verskeie rolspelers gered, naamlik die plaaslike reddingspersoneel, die Suid-Afrikaanse Polisiediens, nooddienswerkers, ambulansdienste, die brandweer en die gemeenskap.”

Hulle is agterna na die hospitaal geneem.

“Albei die insittendes het ligte inwendige beserings in die ongeluk opgedoen. Hulle is nadat hulle gered is met hul families in Robertson herenig, wat hulle na die plaaslike provinsiale hospitaal geneem het om hulle weens hul beserings te laat ondersoek.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article