’n Vrou (38) van Worcester is steeds getraumatiseerd, dit onder meer nadat haar verkragting deels op kringtelevisiekameras vasgevang is.
Die vrou, wie se identiteit weerhou word, het Donderdagoggend (11 Mei) omstreeks 06:20 soos gewoonlik na haar werksplek gestap toe ’n man haar genader en in die bosse ingetrek het.
Die voorval wat in Brownstraat naby GW Auto Electrical plaasgevind het, is op hierdie onderneming se kameras vasgevang.
Op die videogreep kan gesien word hoe die man haar nader, maar hoe sy dan weier om naby hom te kom. Sekondes later oorval hy haar en het hy haar aan die arm beet, waarna sy in ’n bos ingesleep word. Die voorval het ’n paar minute lank geduur.
Die straat is geleë naby die nywerheidsgebied met honderde voetgangers wat die pad gebruik.
“Ons is gewoonlik so rondom 06:30 in die oggend by die werk en op hierdie spesifieke dag het ek opgelet dat my werkers met ’n vrou staan en praat. Ek het ingetree en wou hoor of alles reg is en ek is ingelig dat sy verkrag is. Ons het dadelik die kringtelevisiemateriaal bekyk en die polisie in kennis gestel om die vrou te help,” vertel die eienaar van GW Auto Electrical, Werner Badenhorst, aan Standard.
Die polisie is na die toneel ontbied en die saak is verder gevat.
’n Naasbestaande wat op voorwaarde van anonimiteit met Standard gepraat het, verduidelik dat die slagoffer steeds aan skok ly en nie tot verhaal kom ná die traumatiese gebeure nie.
Op Maandag 15 Mei het die slagoffer die vermeende verkragter in die dorp gesien en haar dadelik na die polisiekantoor gehaas om hulp.
AO Vathiswa Jacobs van Worcester-polisie het die verkragting-voorval bevestig en ook gesê dat ’n man op aanklag van verkragting in hegtenis geneem is. Hy sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.
“Hy het die slagoffer eers probeer beroof van geld en ’n selfoon, waarna hy haar met ’n mes gedreig en toe verkrag het,” vertel Jacobs.
Badenhorst sê dat hy onlangs, ná ’n vlaag inbrake in die gebied, R50 000 bestee het om sekuriteit daar te verbeter.
Twee voorvalle is in die afgelope maand op Badenhorst se kringtelevisiekameras vasgevang.
Badenhorst en ander belanghebbendes het ook ná die verkragting die bos gaan snoei om enige verdere voorvalle te verhinder.
“Ek vermoed dat die verkragter een van die manne is wat probeer het om by ons in te breek. In albei gevalle spring die man moeiteloos oor die heining, beloer die eiendom en die bakkies, en neem dan artikels in ’n groot wit sak. In die een videogreep sien ’n mens duidelik hoe die polisie enkele sekondes nadat die man oor die heining spring, verbyry.”
Badenhorst, wat bewusmaking wou skep en druk op die polisie wou toepas ná die verkragting en vermeende inbrake, het gedeeltes van die beeldmateriaal op TikTok en Facebook geplaas.
“Ek wou vroue waarsku om waaksaam te wees en wou druk toepas op die polisie om hul werk te doen. Die video’s is sowat 120 000 gekyk, maar ek moes dit verwyder.
“Ek is persoonlik aangeval deur inwoners en selfs my gesin is gedreig. Mense het ons beskuldig dat ons toegekyk het op kringtelevisiekameras hoe ’n onskuldige vrou verkrag word – dit is onwaar.” Badenhorst en ander ondernemings het selfs kragopwekkers en ligte opgerig in die area, sodat die straat goed belig is tydens beurtkrag.




