Die krieketspanne Worcester Victorians en Wolseley het mekaar die afgelope naweek die stryd aangesê.
Wolseley se kaptein wen die loot en besluit om die manne van Viccies in te stuur om eerste te kolf. Hierdie lyk na ’n wyse besluit, want die veldoppervlakte speel van bal een af baie moeilik en die kolwers van Viccies sukkel om op dreef te kom. Victorians kon slegs 111 lopies in 47.4 boulbeurte aanteken.
Hiervan kry die kaptein, Granville Welcome, 29 lopies (3 x viere); Alreeck Conradie slaan 15 lopies (3 x viere) en Wolseley staan ook 21 ekstras af.
Die manne van Wolseley wat die paaltjies laat kantel het, was Franklin Mars wat 4 paaltjies vir slegs 15 lopies neem in 9.4 boulbeurte; Jaden Swarts neem 3 paaltjies vir 16 lopies in 8 boulbeurte en Rashied September neem 2 paaltjies vir 18 lopies in 6 boulbeurte.
Wolseley gaan kolf hierna en word van bal een af onder geweldige druk geplaas deur die uitstekende boulwerk van Viccies se boulers. Wolseley word almal kleedkamer toe gestuur vir slegs 71 lopies in 23 boulbeurte wat dus aan Victorians ’n oorwinning van 40 lopies besorg.
Vir Wolseley kon slegs een kolwer dubbelsyfers haal. Die uitblinkers met die bal vir Victorians was Lorenzo Wildskut wat 3 paaltjies laat kantel vir 24 lopies in sy toegelate 10 boulbeurte; Roswell Cornelius neem 2 paaltjies vir 20 lopies in 5 boulbeurte; Fredlin Visser neem 2 paaltjies vir 14 lopies in 2 boulbeurte en Alreeck Conradie en Rual Khumalo neem 1 paaltjie elk.
Hierdie naweek reis Worcester Victorians I na Wellington om die manne van Bergrivier te pak terwyl die tweede span tuis speel op Esselenpark.




