Dit is hoe die voorgestelde verkeersirkel by die Hoog- en Louis Langestraatkruising gaan lyk. Foto:

Credit: SYSTEM Credit: SYSTEM

Menige Breedevalleier se grootste vrees is om in spitstyd in Louis Langestraat in ’n verkeersknoop te sit.

Breedevalleiers – en veral mense wat daagliks in die Worcester-nywerheidsgebied werk of in Zwelethemba woon – kan hulle geleidelik begin regmaak vir ’n nuwe verkeersirkel – maar eers oor agt maande – by die Hoog- en Louis Langestraatkruising nadat die eerste sooi Maandag 21 November gespit is. Bouwerk gaan eersdaags begin.

Die versoek vir bou van ’n verkeersirkel by die aansluiting van Hoog- en Louis Langestraat was lank bo-aan Wyk 7 se lys van geïntegreerde ontwikkelingsplanbehoeftes, en hierdie droom is nou uiteindelik bewaarheid.

Ontketening van Verdere Plaaslike Ekonomiese Ontwikkeling en Investering

In haar toespraak by die sooispitplegtigheid van die nuwe verkeersirkel het Antoinette Steyn, die burgemeester van die Breedevallei-munisipaliteit, verduidelik verdere ekonomiese ontwikkeling en investering in die nywerheidsgebied is afhanklik van ’n opgeknapte toegangsroete na dié belangrike gebied. Die verwagting is dat die nuwe verkeersirkel ’n groot invloed op verdere ontwikkelings en uitbreidings in hierdie omgewing sal hê en die toekomstige uitleg van die beoogde Uitvlugt-nywerheidspark van 80 hektaar (tussen die spoorlyn, die Hexrivier, agter HexTex en agter PenBev) sal help ontketen.

Joffery Jack, die burgemeesterskomiteelid vir ingenieursdienste van die Breedevallei-munisipaliteit, het gesê die verkeersirkel is oulik ontwerp veral in die sin dat dit ’n glybaan langs die verkeersirkel insluit, wat swaar vragmotors wat van die N1 af met die Hoogstraatbrug (by Meiringspark) kom, sommer direk links na die nywerheidsgebied kan laat afdraai en dus die sirkel te vermy.

Aanvang

Met die oorhandiging van die bouterrein aan die kontrakteurs word verwag dat die stof dié jaar al sal begin opslaan aangesien die kontrakteurs sekere betonwerk sal begin giet voordat die bouersvakansie begin.

Tydlyn

Die tydlyn vir dié projek se implementering is as volg:. Adverteer van tender vir projek – Junie 2022. Toekenning van tender – 14 Oktober 2022. Oorhandiging van terrein aan kontrakteurs – 21 November 2022. Beraamde boutydperk – agt maande (bouersvakansie ingesluit). Beraamde voltooiingsdatum – Julie/Augustus 2023

Projekspan

Die projekspan wat die Breedevallei-munisipaliteit in diens neem, bestaan uit Element Consulting Engineers, Guillaume Nel-omgewingskonsultante, die Safe Working Practice Occupational Health and Safety-groep en Civils 2000 as kontrakteur.

Civils 2000 is ’n Vlak 1 B-BBEE-bydraer en die maatskappy het ’n 9CE CIDB-gradering. Hy verskaf werk aan meer as 300 mense.

Verkeersreëlings

Ten einde die minimum ontwrigting vir inwoners te verseker, sal tweerigting-verkeer in Hoogstraat te alle tye tydens die bouwerk aan die verkeersirkel gebruik word, maar Louis Langestraat sal vir ’n rukkie in Januarie 2023 vir verkeer gesluit word.

Ompad-roetes sal toegang tot die nywerheidsgebied verseker wanneer Louis Langestraat gesluit is.

verdere bonus vir inwoners

Julian Kritzinger, die wyksraadslid vir Wyk 7, het gesê ’n verdere bonus waarna inwoners kan uitsien, is dat die oorblywende gedeelte van De la Batweg (van Oude Meule tot by Rouxweg) ook in die nuwe jaar herseël gaan word ten einde al die verkeer van Meiringspark en Rouxpark om daardie gebied te kan dra.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article