Die span van Worcester Victorians wat slegs een wedstryd hierdie jaar verloor het.Foto:


Worcester Victorians het Saterdag die manne van De Doorns in hul laaste T20-wedstryd van die seisoen gepak.

De Doorns se kaptein het die loot gewen en besluit om die manne van Viccies in te stuur om eerste te gaan kolf.

Dit is ’n besluit wat nog lank by hom sal spook, want die manne van Viccies het sommer van meet af aan die pap dik aangemaak.

Viccies se openingspaar, Rumark Wilskut en Nurkarrim Babu, was in ’n verwoestende bui. Hulle het reeds in die vierde boulbeurt ’n 50 lopie-vennootskap aangeteken. Die twee kolwers het saam 143 lopies geklits voordat die eerste paaltjie geval het.

Victorians het ’n massiewe 215 lopies vir die verlies van ses paaltjies in sy toegelate 20 boulbeurte aangeteken.

Die uitblinkers met die kolf was Babu met 71 lopies (8 x 4e EN 3 x 6e), Wilskut met 58 lopies (1 x 4 EN 6 x 6e), Branwin Samuels met 23 lopies en Rico Solomons wat 18* gehaal het.

Vir De Doorns het Denovan Solomons vier paalties vir 29 lopies in sy toegelate vier boulbeurte laat kantel.

De Doorns het hierna gaan kolf, maar kon slegs 109 lopies vir die verlies van agt paaltjies bymekaarskraap.

D. De Klerk het 27 lopies aangeteken en Denovan Solomons 22.

Die manne wat vir Viccies verwoesting met die bal gesaai het, was Dean Saayman, wat vier paaltjies vir 22 lopies in 3.2 boulbeurte laat kantel het; Roswell Cornelius wat twee paaltjies vir 14 lopies in 2.4 boulbeurte geneem het voordat hy die tweede keer hierdie seisoen met ’n beenbesering van die veld moes gaan; Derrick Solomons wat een vir 11 in sy twee boulbeurte geneem het, en Rico Solomons met een vir 14 in 1.4 beurte.

Viccies het die wedstryd dus verspot maklik met 106 lopies gewen.

Worcester Victorians speel nou op 26 Maart ’n uitspeelwedstryd teen Caledon in Paarl om te bepaal watter span volgende seisoen na die Promosieliga opskuif.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article