’n 90-Jarige vrou van Worcester het weer lus vir die lewe na haar stryd teen kanker.
Tannie Sophia Phillips, ’n boorling van Prince Albert, het in 1953 na Worcester verhuis, waar sy tot vandag toe woon. Sy het vroeër vanjaar haar stryd teen kanker gewen en sê dat sy al die gebede waardeer wat aan haar opgedra is.
Tannie Sophia, wat haar 90ste verjaardag op 15 Februarie gevier het, sê dat sy nou weer opnuut ’n lus vir lewe het. Sy noem dat sy altyd geweet het sy gaan genees word van kanker omdat sy vir die Here gesê het “ek gaan gesond word”.
“’n Pastoor in Tygerberg het vir my gesê: ‘Soos jy glo, so sal dit wees’ en ek het geglo ek sal gesond word,” sê sy.
Tannie Sophia verduidelik dat haar resep vir haar lang lewe te danke is aan die beginsel “Eer jou vader en moeder en jou dae sal verleng word”. Haar ma is oorlede toe sy slegs agt jaar oud was. As gevolg hiervan kon sy nie skool toe gaan nie, omdat sy moes gaan werk om ’n ekstra inkomste vir hul gesin in te bring.
“Ek kon nie my ma eer nie, maar ek het my skoonouers geëer en dis hoekom die Here my so lank uitspaar.”
Tannie Sophia se raad aan ander wat ook deur soortgelyke siektes gaan, is dat jy nie in ’n hoekie moet sit en krepeer nie.
“Jy moet lewe en alles doen wat jy voorheen gedoen het, jy kan nie laat die siekte jou lewe oorneem nie. Gaan uit na jou familie, kuier by vriende en gaan kerk toe, lewe voluit.”
Sy beskryf haarself as ’n vrou wat baie lief is vir die kerk. Sy het altyd haar kinders met Bybelse beginsels grootgemaak.
Volgens Tannie Sophia se enigste oorlewende kind, Philip Phillips, is hy dankbaar dat hy sy ma nog by hom kan hê.
“As jy kyk na haar ouderdom is dit ’n wonderwerk dat sy dit gemaak het, want baie mense is nie so gelukkig nie,” sê hy. Sy ma het vir die eerste keer in haar laat dertigs kanker gekry, maar as kind het hy dit nooit geweet het nie.
“Jy weet, in daardie dae het die ouer mense nie alles met hul kinders gedeel nie.”
Hy sê een van die grootste lesse wat hy by sy ma geleer het, is dat jy altyd respek vir ander moet hê en altyd moet omgee. Weens sy ma se jare lange betrokkenheid by die kerk en haar lesse, drink en rook hy tot vandag toe nie.
“Sy het altyd vir ons geleer dat jy jou eie besluite moet maak en ook die gevolge van daardie besluite moet dra.”
Volgens hom is sy ma op haar hoë ouderdom steeds baie aktief by die kerk. Hy voeg by dat hy dankbaar is vir die kerkmense wat sy ma ondersteun het met gebede gedurende haar stryd teen kanker.





