MONTAGU – Die Montagu- kulturele en opvoedkundige trust bied vanjaar die vierde keer ’n roosskou in die KWV se gebouekompleks aan.
Volgens die program van die Montagu- roos- en tuinskou open die verrigtinge Vrydag (18 Oktober) om 09:00 en duur tot Sondag 20 Oktober om 12:00. Die besigtiging van etlike bobaas-tuine is deel van vanjaar se blommeskou.
Die plaas Harmonie 116 in die Keisie-vallei (sowat 22 km buite die dorp), die Secret Garden in Kerkstraat, asook Bergstraat 26, Montagu-Wes, is drie van die tuine wat vir besigtiging oop sal wees.
By die Bergstraat-tuin sal plante te koop wees. By al hierdie tuine sal ’n skenking van R20 gevra word. Voorts beloof die KWV-gebouekompleks om ’n miernes vir tuinbedrywighede te wees.
Benewens die blommeprag wat besoekers sal kan bewonder, kan hulle hulle ook die vertonings van die rolprente The Hidden Life of Trees (Vrydag 19:00-21:30) en Paradise Gardens (Saterdag 14:00-16:30) in die ouditorium bywoon. ’n Skenking van R50 word gevra.
Verder sal ontbyt en ligte middagetes beskikbaar wees, asook allerlei gebak en ander peuselhappies en drankies om ’n besoek spesiaal te maak.
“Bring jou rose. Wys ons pragtige rose vir almal om te geniet. R20 vir enige aantal rose-inskrywings. Rooskategorievorms is beskikbaar by KWV en die plaaslike toerismekantoor. Die ouditorium is Donderdag 17 Oktober van 06:00-13:00 en Vrydag 08:00-09:00 oop om eksemplare van rose en blommerangskikkings te bring. Daar sal geen beoordeling wees nie; geen kompetisie nie,” sê Jeanne Biesenbach, trustee van die Montagu- kulturele en opvoedkundige trust.
Die plaaslike gemeenskap sowel as besoekers aan dié rustige Bolandse dorpie met sy omringende rotsgebergtes en pragtige natuurskoon word hartlik uitgenooi om in groot getalle in die fees van kleurryke blommeprag, struike en plante te kom deel.
.Skakel Madré by die KWV-gebouekompleks by 072 397 4710 vir meer inligting.




