Vir die huis / plaas:
1. Maak seker jou alarm werk. Reël met jou veiligheidsdiensverskaffer en doen ’n toets met hul beheerkamer.
2. Maak seker daar is nie gate in jou heining waar iemand maklike toegang tot jou eiendom kan kry nie.
3. Koppel jou buiteligte aan tydskakelaars.
4. Lig jou veiligheidsmaatskappy in as jy met vakansie gaan.
5. Indien jy ’n oppasser het wat na jou huis omsien, maak seker hy of sy weet hoe werk die alarmstelsel.
6. Maak seker bome en bosse naby aan deure en vensters is gesnoei.
7. As jy pak om weg te gaan, doen dit diskreet – in die motorhuis, as jy kan.
8. Voor jy vertrek, maak seker alle deure is gesluit en vensters is toe; so ook store, pomphuise, dieseltenks ens.
Vir die pad
1. Maak seker dat jou voertuig padwaardig is en dat jou voertuig genoeg vloeistowwe het (water, remvloeistof en enjinolie). Gaan alle ligte (kop-, rem-, flikker- en noodligte) na en kyk of jou voertuig se ruitveërs in ’n werkende toestand is. Kyk ook na die loopvlak en drukking van al die voertuig se bande (moenie die noodwiel vergeet nie).
2. Padwoede en ongeduld is van die gevaarlikste uitdagings wat motoriste in die gesig staar. Maak seker jy kry genoeg slaap voordat jy die langpad aandurf, want uitputting kan jou geïrriteerd maak.
3. Verminder stres agter die stuur deur jou roete vooruit te beplan. Maak seker jy weet waar vulstasies, polisiekantore en hospitale op jou roete is.
4. Maak seker almal gebruik hul sitplekgordels.
5. As jy dalk in ’n ongeluk betrokke is, hou dadelik stil en stel eers vas of iemand beserings opgedoen het. As iemand beseer is, moenie die voertuie beweeg nie en skakel die nooddienste.
6. Moenie onder die invloed van alkohol bestuur nie.


