Sy het grootgeword en geglo sy is ’n prinses. Sy het geglo dat sy eendag haar ridder op ’n wit perd sou ontmoet en dat sy in ’n weelderige kasteel langs die see sou woon. Maar haar drome om ooit liefde te vind, het aan skerwe gehang, want die koning het haar seergemaak en haar “prins” het net aangehou waar die koning opgehou het, maar vandag kan sy getuig oor ware liefde.
Marie Steyn (37), ’n inwoner van Worcester wat in die Robertson-gebied werk, is in Krugersdorp in die Gauteng-provinsie gebore. Daar het Steyn ook haar grootwordjare deurgebring in ’n huis vol halfboeties en -sussies. Dit is ook in hierdie huis waar haar stiefpa ’n deel van haar menswees aangetas en haar jeugdigheid gesteel het.
“Hy was ’n myner en vreeslik lief vir sy dop. My ma het ’n halfdagpos as ontvangsdame gehad en was geskeur tussen haar werk en om na my en my vier sibbe om te sien. My stiefpa is geken vir sy humeur en was gereeld in vuisgevegte betrokke. Ek het hom party dae meer gevrees as die vlieëplak waarmee ons ’n pak slae sou kry.”
Steyn is egter van 11-jarige ouderdom gereeld ook deur haar stiefpa verkrag en gemolesteer.
“Hy het my laat glo dat dit is hoe dit werk en dit is wat gebeur as iemand lief is vir jou, maar dat dit ’n geheim moes bly. Dit het vir maande aan en af gebeur. Ek was te dom om te weet dat ek iemand moes vertel,” sê Steyn aan Standard.
‘ ’n bedekte seën’
Haar ma is egter dood drie dae voor haar twaalfde verjaarsdag en sy moes weens omstandighede by haar tannie in Bloemfontein gaan woon.
“Dit klink baie lelik, maar dit was ’n bedekte seën. Ek is uit daardie monster se kloue uit en kon ontsnap, maar dit is nie waar die trauma beëindig is nie.”
Steyn het haar hoërskoolloopbaan in Bloemfontein voltooi en daar by ’n kollege ingeskryf vir ’n kursus in naels en skoonheid. Langsaan hierdie kollege was ’n werkswinkel met ’n jong knaap wat haar oog gevang het.
“Hy was ’n motorwerktuigkundige en het my aan die begin op sy hande gedra. Ek was regtig lief vir hom en het gedink dit is wat ek in ’n man soek. Hy was ook ongelukkig lief vir alkohol en sy ware kleure het na vore gekom. Ons het een aand gebraai en hy het vieslike goed vir my gesê. Hy het egter gesê hy grap en ek het vir hom gesê ek dink hy is onvanpas en stel my in die verleentheid. Hy het my deur die gesig geklap en my gevloek. Ek het gaan slaap en hom die volgende dag vergewe.”
Steyn vertel dat hy die volgende dag groot om verskoning gevra het en dat sy hom nog ’n kans gegee het.
“Hy het belowe hy sal ophou drink en hy het. Maande lank het ons aan ons verhouding gewerk, maar een Saterdagmiddag het sy kop net uitgehaak. Hy het my beskuldig dat ek flankeer met sy beste vriend en my allerhande name genoem. Hy het my gestamp, my geskop en my met ’n stapel boeke gegooi.
“Ek het bly lê en gebid en toe ek weer sien was hy genadiglik uit die kamer. Ek het gedink ek gaan doodgaan.”
Sy het haar tasse gepak en is terug na haar tannie toe. Sy het haar Opel Corsa gelaai en nooit weer teruggekyk nie.
“Wat weet ’n mens van liefde op die ouderdom van 19 en 20? Wat weet jy van liefde as mans jou nog net seergemaak het? Ek het ’n paar maande in Bloem aangebly en toe ’n geleentheid as ’n naeltegnikus en ontvangsdame in Stellenbosch gekry.
“Ek het weer my Corsa gepak met die min goed wat ek besit en by ’n skoolvriendin vir tyd en wyl gaan bly,” vertel sy.
Hier het sy jare lank gefokus gebly om aan ’n loopbaan te bou en besluit dat sy afstand wil doen van mans en verhoudings. In 2017 het dit egter verander.
“Ek kon mans net nie vertrou nie. Ek het mansvriende gemaak in Stellenbosch en kon deur dit weer ietwat ’n ander idee en prentjie in my kop vorm. Ek het ook in 2013 ’n sielkundige begin besoek en deur alles probeer werk.
“In Mei van 2017 het ek ’n man ontmoet en dit was die eerste keer sedert ek 19 was dat ek daardie opgewondenheid in my gevoel het. Vir maande het hy my gesmeek om iets saam te gaan eet en uiteindelik in September is ek saam met hom en een van my vriendinne na ’n koffiekroeg toe. In Februarie 2018 was ons amptelik ’n paartjie.”
‘Almal verdien ’n Willem’
Willem Steyn (44), haar kêrel in daardie stadium, het op ’n plaas net buite Stellenbosch gewerk. Toe hy egter in Augustus 2018 ’n geleentheid buite Worcester op ’n plaas kry as voorman, wou hy nie die pad sonder haar aanpak nie.
“Hy het my gevra om te trou en ek het ingestem. Ek is tot vandag toe nie spyt nie. Dit het my lank gevat om hom te vertrou en ek het vir maande gewag vir die dag wanneer hy my gaan teleurstel, maar hy verbaas my nog elke dag.”
Hulle is vroeg in 2019 getroud en Steyn het ook toe ’n werk as ontvangsdame op ’n bekende wynlandgoed buite Robertson gekry.
“Alles het in plek geval en hy het my gewys hoe om mans weer te vertrou. Dit is jammer dat daar vrouens in die land is wat doodgaan aan die hand van ’n man vir wie hulle lief is of was. Almal verdien ’n Willem.
“Vir iemand soos ek wat in sprokies geglo het toe ek jonk was en vir wie daardie droom onbereikbaar gevoel het, kan ek getuig dat jy wel mans kan vertrou,” sê sy.




