‘n Veroordeelde verkragter van Robertson gaan tien jaar agter tralies deurbring nadat hy ‘n jong vrou, wat aan hom bekend is, in die plaaslike begraafplaas verkrag het.
Nathan Herder (26) het skuld beken op die aanklag van verkragting en ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan. Hy is op Vrydag (11 Julie) gevonnis.
Luidens die pleitooreenkoms erken hy dat hy die 19-jarige vrou op 5 Februarie 2020 in Robertson raakgeloop toe sy van haar werkplek af gekom het. Hy erken die klaagster is bekend aan hom en dat hulle in die rigting van die plaaslike begraafplaas gestap het. Volgens Herder wou hy met die klaagster oor ‘n regsaangeleentheid gesels, waarna ‘n stryery gevolg het.
Hy erken hy het die klaagster uit woede op die grond neergegooi en haar klere van haar lyf af geruk. Hy sê hy het haar en haar familie met geweld gedreig indien sy haar sou teësit.
Luidens die pleitooreenkoms erken hy dat hy die daad van seksuele penetrasie sonder die toestemming van die vrou gepleeg het.
Hy erken die klaagster het haar tydens die daad deurentyd probeer teësit, maar dat sy dit fisiek nie kon regkry nie. Volgens hom het hy haar toe verkrag.
Herder erken nadat hy die vrou verkrag het, het sy saam met hom gestap. Volgens hom het die vrou in die rigting van ‘n polisievoertuig wat in die omgewing was, gehardloop en die voorval aangemeld.
Haar aanvaller is toe in hegtenis geneem.
Herder erken hy het onregmatig en doelbewus opgetree.
Hy erken voorts hy het geweet sy optrede was verkeerd en volgens die wet strafbaar. – Enrico Claassen




