Enige Breedevalleier wat hom/haarself in die verlede al op ’n werksdag van 16:00 tot 18:00 in die Worcester-nywerheidsgebied bevind het, weet maar te goed dat die Hoog- en Louis Langestraat-kruising die epitoom van ’n verkeersnagmerrie was.
As hoofingangsroete na die nywerheidsgebied het die Hoog- en Louis Langestraat-kruising met “uitvaltyd” groot verkeersopeenhopings veroorsaak, wat ook veroorsaak het dat die nywerheidsgebied nie verder kon uitbrei nie en verdere plaaslike ekonomiese ontwikkeling gedemp het.
Die eerste sooi vir die nuwe verkeersirkel is in November 2022 gespit, met die verwagte voltooiingsdatum aanvanklik op 18 November 2023 bereken. Nadat die kontrakteur vroeër vanjaar gemeen het die erge reën en winterstorms sou die voltooiing van die werk vertraag, het hulle daarin slaag om hierdie tyd in te werk sodat die werksaamhede ’n volle nege dae vroeër as beoog voltooi kon word.
Die verkeersirkel is Donderdag 9 November 2023 amptelik geopen.
In haar toespraak tydens die opening het die burgemeester van die Breedevallei-munisipaliteit, Antoinette Steyn, almal bedank wat betrokke was en veral Jaco Steyn, direkteur van ingenieursdienste van die Breedevallei-munisipaliteit, uitgesonder omdat hy die projek besonders suksesvol uitgevoer het.
David McThomas, die munisipale bestuurder, het verduidelik dat die sirkel ’n teken is van Breedevallei-munisipaliteit se belegging om werkskepping en die ontketening van ekonomiese geleenthede te help bevorder.
Steyn het die projekspan wat die Breedevallei-munisipaliteit in diens neem het, bedank, naamlik Element Consulting Engineers, Guillaume Nel Omgewingskonsultante, Safe Working Practice Occupational Health and Safety Group en Civils 2000 as kontrakteur.
Joff Jack, die burgemeesterskomiteelid vir ingenieursdienste van die Breedevallei-munisipaliteit, het die bekende Vala-sakefamilie van Worcester bedank, wat gehelp het om die sirkel moontlik te maak.
Die Vala-familie besit die oop stuk grond by Hoogstraat 020 (op die hoek van die Hoog- en Louis Langestraat-kruising) en was bereid om ’n stuk van hul grond aan die munisipaliteit te verkoop sodat ’n gedeelte van die sirkel daarop gebou kon word. Indien hulle nie hiertoe ingestem het nie, sou die sirkel nie gebou kon word nie.
Julian Kritzinger, die wyksraadslid van wyk 7, het verduidelik dat verdere ekonomiese ontwikkeling en investering in die nywerheidsgebied afhanklik was van ’n opgegradeerde toegangsroete tot dié gebied. Hy het verduidelik die nuwe verkeersirkel sal ’n groot invloed op die toekomstige uitleg van die beoogde 80-hektaar Uitvlugt-nywerheidspark (tussen die spoorlyn, die Hexrivier, agter HexTex en agter PenBev) help ontketen.
Die konstruksiewerk was ’n groot taak, aangesien die nuwe verkeersirkel 42 meter breed is en vanweë hierdie groot diameter moes die Hoog- en Louis Langestraat-kruising herbelyn word. ’n Groot betonstutwal moes ook aan die noordoostelike kant gebou word, ten einde Hoogstraat se aanloop tot die verkeersirkel te stut.





