Die bekroonde skrywer en joernalis Irma Venter het by die plaaslike Die Skuur-skrywersaande se maandelikse boekepraatjie kom gesels oor haar nuwe boek.
Venter se Die Verkeerde Vrou is onlangs uitgereik en is nes haar ander boeke reeds ’n treffer.
Talle resensente beskryf die boek as “boeiend” en “vol intrige” en Worcesteriete was gelukkig om op Woensdag 9 November insig in die skrywer se psige te kry wat hierdie boek aanbetref.
Die boek handel oor die intrige rondom ’n beroemde aktrise en haar verdwyning.
“Liela Oloffson het alles wat die meeste mense begeer. Skoonheid, roem en ’n blink loopbaan as aktrise. Maar dan verdwyn sy een Vrydagnag en die polisie moet die media se hulp inroep om haar te vind.
“ ’n Gesoute misdaadjoernalis, Ami Prinsloo, volg Liela se spoor soos ’n bloedhond van waar sy laas in Johannesburg gesien is, en selfs verder, tot by haar kinderdae.
“Kruip Liela weg of is sy gekaap? Of dalk ontvoer? En waaroor het sy en haar verloofde so hewig baklei net voor sy verdwyn het?” vertel Venter.
Inwoners en belanghebbendes het behoorlik aan Venter se lippe gehang en het ook pertinente vrae gehad oor van haar vorige boeke.
Venter is aan die Oos-Rand in Gauteng gebore en het haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Port Natal, in Durban, voltooi. Sy het kommunikasiekunde (joernalistiek en radio) en internasionale politiek op die NWU se Potchefstroomkampus gestudeer. Sy was ook daar die Wapad-studentekoerant se redakteur.
“Deesdae is ek ’n joernalis by ’n mediamaatskappy in Kaapstad, waar ek in handel en nywerheid spesialiseer. Ek fokus meestal op die motorbedryf.”
Sy het al verskeie toekennings gekry, onder meer drie Pica-toekennings as handel- en nywerheidskrywer van die jaar, en een as die Afrika- wetenskap-en- tegnologiejoernalis van die jaar.
Reis is haar passie, en sy het al ongeveer 30 lande besoek. Sy werk hard daaraan om dié syfer so vinnig as moontlik te laat styg. Mongolië, Ysland en Rusland is nog op haar lys om te verken. Gelukkig laat haar werk haar toe om gereeld te reis.
“Ek hou van nuwe plekke, lughawens, woestyne, labradors, produkte wat in Suid-Afrika gemaak word, mense wat nog die moeite doen om kos te maak, lente en herfs, goeie whisky, goeie koffie en goeie sjokolade, en nie noodwendig in daardie volgorde nie.”
Uit al hierdie dinge put sy ook inspirasie om haar boeke te skryf. Bibliofiele kan uitsien na nog boeke uit haar pen en sy is beslis nog ver van klaar wat haar skryfwerk aanbetref.
)
Standard gee vandeesweek haar jongste boek, Die Verkeerde Vrou, weg aan ’n gelukkige leser.
Om in aanmerking vir die boek te kom stuur ’n WhatsApp aan 081 218 1581 en beantwoord die volgende vraag. Wat is die naam van die hoofkarakter in Irma Venter se jongste boek, Die Verkeerde Vrou?
Die kompetisie sluit Dinsdag 22 November om 12:00.


