Riool stoot by mangate in ’n oop veld in Meiringspark op. Dit is met kalk behandel om die reuk te demp. Foto: Ronél van Jaarsveld


Die stank wat oor dele van Meiringspark in Worcester hang, is onhoudbaar, kla inwoners. Dit is só erg dat hulle snags van die slegte reuk wakker word.

Die oorsaak blyk ’n rioollyn te wees wat langs die treinspoor naby Dirkie Uys- en Hans de Langestrate afloop.

Die probleem strek glo al oor jare, maar het laat verlede jaar vererger.

Die reuk is veral saans erg.

Hoewel sommige inwoners aanvanklik vingers na die aanleg van Rainbow Chickens (RCL Foods), wat net anderkant die spoorlyn geleë is, gewys het, is dit intussen as die oorsaak van die probleem uitgeskakel. Die aanleg het inwoners genooi om hulle te besoek en te kyk na die stelsels wat hulle gebruik. Hulle vermeld ook as daar wel probleme by hulle is, sê ’n inwoner.

Mense wat in die veld langs die woonbuurt stap, het gesien dat riool uit mangate in die veld stroom en dit aangemeld.

Die afgelope week het verskeie rolspelers saam met inwoners weer na die probleemgebied gaan kyk.

Verteenwoordigers van onder andere die Wynland-distriksmunisipaliteit, ’n luggehaltebeheerbeampte van die Breedevallei-munisipaliteit, beamptes wat by die stormwater- en rioolafdelings werk en RCL Foods-personeel was teenwoordig.

Die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) het by navraag gesê die probleem word deur vandalisme veroorsaak en mangate op die Transnet-eiendom raak verstop. Dié blokkasies veroorsaak dat die mangate in die veld oorstroom.

“Ons JetVac-voertuie word gebruik om die rioollyne skoon te spuit en die blokkasies te verwyder. Ons is ook besig om die stukkende mangate te herstel en deksels op te sit wat gesluit kan word,” sê Hannelie Botha van die BVM. Hulle hoop om die werk teen 28 Februarie af te handel.

Oor kommer dat nuwe ontwikkelings veroorsaak dat die rioollyn se kapasiteit te min is, het die munisipaliteit aangedui dat ontwikkelaars ’n diensteverslag moet indien oor water en afvalwater voordat hulle met die ontwikkeling kan begin. Hierdie verslag sal aandui of voldoende kapasiteit beskikbaar is en of opgraderings nodig is.

“Die munisipaliteit sal nie toestemming vir ’n ontwikkeling gee as daar nie genoeg kapasiteit is nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article