Die deurlopende instandhouding van die gedenktuin op die Kerkplein is een van die WBID se verantwoordelikhede. Foto:

Credit: SYSTEM

’n Poging deur die Worcester Business Improvement District (WBID) om die middedorp te verfraai, is binne ’n dag vernietig toe die werk gevandaliseer is.

“Ons het hierdie jaar 20 bome in die middedorp geplant. Die bome is almal op die regte manier geanker met houtpale, tou en staal-ankers wat in die sypaadjies ingekap is. Die dag nadat ons die bome geplant het, is die houtpale en tou gesteel,” verduidelik Wilhelm Frölich, ’n deeltydse koördineerder en organiseerder van die WBID.

Die pale en tou is vervang, maar is net weer gesteel. Frölich vra dat die publiek waaksaam moet wees en wanneer hulle sien mense vandaliseer die bome of plante, moet hulle dit rapporteer.

Die hoofdoelwit van die WBID is die mooimaak en instandhouding van die middedorp. Hulle het ook plantjies om bestaande bome geplant, waarvan ’n paar ook al gesteel is.

Eienaars van geboue in die middedorp dra ook finansieel by tot deurlopende projekte.

“Ons hooffokus is die instandhouding van die pleine op die dorp. Kerkplein geniet baie aandag en tyd, veral die gedenktuin. Ons het toestemming van die BVM om bome te plant, asook die plantjies.”

Benewens die bome en plantjies, is hulle ook besig met ’n sypaadjieprojek.

“Een van ons ander projekte is om die sypaadjies in die dorp mooi te maak. Ons het al begin daarmee. Die doel van die projek is om die sypaadjies te plavei. Die WBID het laat verlede jaar met hierdie projek begin. Dit is ’n deurlopende projek en nadat die plaveisel gelê is, sal dit met keistene afgewerk word.

“Ons stene is tans op en ons wag op die BVM om nog stene aan ons te voorsien – dit is hul bydrae vir die projek.”

Frölich verduidelik voorts dit is ’n toekomsdroom dat ’n deel van die middedorp ’n eksklusiewe voetgangersone sal word. Die middedorp strek van Riebeeck- tot Somersetstraat en Tulbagh- tot Durbanstraat.

“Een van die ander projekte wat nog in die pyplyn is, is dat ons ’n koeponstelsel vir haweloses wil begin, waar hulle koepons sal kry vir ’n plek waar hulle kan gaan om te eet en te slaap.

“Die ander projek waaraan ons tans werk, is om straatnaambordjies by die ingang van alle strate te installeer. Ons het die Hugo Naudé-kunssentrum genader vir ontwerpe en sal eersdaags daarmee begin.”

Frölich doen ook ’n beroep op die gemeenskap van Worcester om bome of plantjies te skenk vir hul deurlopende projek om te dorp te verfraai.

Om vandalisering van die plante of bome te rapporteer of om plante of bome te skenk, kan Danie Rousseau by 071 302 5720 gebel word.

Om op datum te bly met die WBID se projekte besoek hul Facebook-blad, Worcester Business Improvement District.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article