Inwoners in Robertson het verlede week gesukkel om asem te haal – alles weens erge rookbesoedeling.

Volgens een inwoner is die rook veroorsaak deur die brand van indringerplante wat deur ’n gekontrakteerde maatskappy uitgeroei word.

“Die rede is dat die maatskappy wat gekontrakteer is om indringerplante langs die Breederivier uit te roei, die plantmateriaal nou doelbewus aan die brand steek.”

Die inwoner was ontsteld omdat hierdie aktiwiteit minder as een kilometer buite die dorp plaasgevind en die rook direk in die dorp se rigting gewaai het.

“Die ligging van dié aktiwiteit was minder as een kilometer buite Robertson-dorp, reg oorkant die Silwerstrand-gholf-landgoed. Die wind het digte rookwolke direk na die dorp toe gewaai. Ek was in die middedorp en my bors het behoorlik gebrand. As inwoner van Robertson maak ek ten sterkte beswaar teen hierdie doelbewuste besoedeling, wat boonop ’n gesondheidsrisiko veroorsaak. My kommer is dat die brandbesoedeling blykbaar oor ’n paar dae sou voortgaan.

“Ek en my vrou is al twee asmalyers en ons het op ’n tydstip gevrees ons sou in die hospitaal beland.”

Die inwoner noem ook dat hy die maatskappy verantwoordelik vir die uitroei van die plante gekontak het om sy misnoeë uit te spreek.

“Ek is ingelig dat die maatskappy ’n brandpermit by die Kaapse Wynland- distriksmunisipaliteit (KWDM) in Stellenbosch vir die projek bekom het. Indien waar, is dit heeltemal onaanvaarbaar. Hoe is dit moontlik – is die publiek wat aan die rookbesoedeling blootgestel word, ooit geraadpleeg?”

Die distriksmunisipaliteit het die permit bevestig. “Die KWDM kan bevestig grondeienaars en private organisasies moet by ons moet aansoek doen vir ’n permit vir beheerde verbranding. Die betrokke organisasie vir die projek waarna verwys word, het wel aansoek gedoen om ’n permit. Die organisasie gebruik verskeie tegnieke afhangend van die digtheid van die plantegroei om die indringerbome in rivierlope uit te roei,” het Anesca Roodt, ’n woordvoerder van die KWDM, gesê.

Sy het ook die stappe van die uitroei van indringerplante verduidlik:

1. Die opsaag en verwydering van die plante en bome

2. ’n Groot hoeveelheid takke wat nie braai- of kaggelhout is nie, word in kleiner houtskaafsels omgeskep.

3. Die oorblywende plante en bome wat nie aan die bogenoemde onderwerp kan word nie, word verbrand. Hierdie stap beslaan nagenoeg 10% van die hele projek.

“Dit beteken dus die verbranding van indringerplante plante en -bome vorm net ’n klein deel van die projek. Inwoners wat enige bekommernisse het met betrekking tot lugbesoedeling, kan dit by die plaaslike munisipaliteit aanmeld.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article