No caption found

Nasifa Sulaiman Credit: SYSTEM


Twee Worcesteriete, Cordiël Witbooi en Aurin Davids, het onlangs by die Suid-Afrikaanse karaokekampioen­skap bekendheid verwerf en almal in vervoering met hul stemme gehad.

Aurin en Cordiël, wat vir Klub 925 deelgeneem het, het onderskeidelik die eerste en tweede plek by die nasio­nale kampioenskap gewen en gaan nou Suid-Afrika by die karaoke-wêreldkam­pioenskap (KWC) in Finland verteenwoordig.

“Ek het nie verwag om as die Suid-Afrikaanse kampioen gekroon te word nie. Dis ’n groot eer, maar ek weet ook dit gaan met baie verantwoordelikheid gepaard,” sê Aurin.

Oor sy tweede plek sê Cordiël hy is eintlik verras. “Ek voel geëerd dat mense my talent raaksien. Ek lewe as ek sing.”

Cordiël, wat in Riverview grootgeword het, sê hy het op die ouderdom van sewe besef hy kan sing.

“Ek onthou toe ek 13 jaar oud was het ek in die kerk begin sing. Ek het ook in die skoolkoor gesing en ek was die enigste seun wat sopraan gesing het,” sê hy.

Hy het in 2015 aan SA’s Got Talent deelgeneem en die halfeindronde gehaal. Hy het ook aan die Open Mic Jazz-kompetisie deelgeneem, waar hy ook die halfeindronde gehaal het en ’n kompetisie by Klub 925 gewen.

Aurin, ook van Rivierview, het sy liefde vir sang op die ouderdom van nege ontdek.

“Ek kom uit ’n musikale familie. Kompetisies was my ding. Ek het aan elke kompetisie deelgeneem. Ek was in Idols 2012, Starstruck SA en die Gemini-sangkompetisie,” sê hy.

Hulle is baie opgewonde oor die wêreldkampioenskap en wil graag Worcester en Suid-Afrika trots maak.

Die direkteur van KWC in Suid-Afrika, David September, sê hy wil graag hê dié twee sangers moet Finland toe gaan.

“Ons wil sangers soos hierdie uit die gemeenskap neem en op die interna­sionale verhoog plaas,” sê hy. “Om een kunstenaar te registreer, kos €1 500. Al is Cordiël die naaswenner wil ons hom ook graag stuur. As ons hulle twee kan stuur, het Suid-Afrika ’n beter kans, want dan kan ons hulle gebruik vir duette ook. Dis ’n groot uitdaging, maar ons gaan ons bes probeer.”

Klub 925 se eienaar, Pieter Janse van Rensburg, sê Cordiël sing al lank by dié klub.

“Ons het die geleentheid raakgesien en is baie bly dat Worcester en Klub 925 by die wêreldkampioenskap verteenwoordig gaan word.”

“Ek wens hulle alles van die beste toe,” sê KWC se verteenwoordiger in Worcester, Kelly Anne Amsterdam. “Hulle het ongelooflike talent en ons gaan ons bes probeer om hulle te stuur.”

Die kampioenskap vind van 16 tot 23 Desember plaas. Enigiemand wat wil bydra om hulle reiskoste te dek, kan Amsterdam by 083 991 0176 of Janse van Rensberg by 082 840 9587 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article