Petro Buys het vir haarself en gesin ’n beter lewe geskep deur haarself op te lei vir ’n beter werk. Foto: Rick Marais


As jy in haar teenwoordigheid kom voel jy sommer dadelik tuis. Jy kom ook gou agter dat sy die go-to-persoon is op kantoor, want so tussendeur die onderhoud met Standard lui haar foon van die mik af.

Kort-kort kom iemand in vir fotostate of soek hier iets en daar iets. Sonder om een keer te sug, help sy almal weg en gaan voort met die onderhoud – ’n raakvatter, ’n “Jill-of-all-trades” in die ware sin van die woord.

Maar wat vir my besonders is van Petro Buys, Laingsburg-munisipaliteit se ontvangsklerk, is haar reis tot waar sy vandag is. Dit is ’n storie waarby baie inspirasie kan vind.

Buys het in 1997 by die einste munisipaliteit as ’n algemene werker begin, met net standerd nege (graad 11) agter haar naam.

“Ek het toevallig een aand by die truck stop naby Bergsig, waar ek gewoon het, ’n advertensie gesien vir werk as ’n algemene werker by die munisipaliteit. Dit het die volgende dag gesluit. Ek het toe gedink; kom ons vat ’n kans en kyk wat gebeur. En tot my verbasing het ek ’n onderhoud gekry,” vertel sy.

“Tydens die onderhoud het die raad vir my ’n vraag gevra wat my lewe verander het. Hulle het gevra waar sien ek myself oor tien jaar en my antwoord was eenvoudig; ek gaan in die kantoor werk. Ek het nie geweet in watter afdeling nie maar ek het geweet ek gaan in die kantoor werk.”

En van toe af het sy stadig begin werk aan haar droom.

Sy het in 2007 besluit om haar matriek te voltooi – ’n jaar na haar dogter en ’n jaar voor haar seun – en by die Laingsburg-geletterdheidsprogam aangesluit. “Ons het die keuse gehad om twee tot drie vakke te doen, maar ek het sommer besluit ek gaan al ses vakke doen. En so het ek dit gedoen.”

“In daardie stadium het die munisipaliteit mense die geleentheid gegee om die plaaslike ekonomiese ontwikkelingskursus by die Suid-Kaap Kollege op Oudtshoorn te doen en ek het my daar ook ingegooi,” sê sy laggend.

Sy vertel dat dit nie altyd maklik was nie, omdat sy twee afsonderlike kursusse terselfdertyd gedoen het terwyl sy voltyds gewerk het ook.

“Ek was baie aande moeg, want ek moes van die werk af kom, die gesin versorg en leer. Ek moes skool toe gaan of dit sonskyn of reën was, want ek wou vir my gesin ’n beter lewe gee,” sê sy trots. “En vandag is ek nie een oomblik spyt nie.”

Sy het daardie jaar albei kursusse voltooi en was die enigste een, uit ’n klas van 26, wat daardie jaar al die vakke gedoen het, wat matriek geslaag het – en dit boonop met ’n vrystelling (universiteitstoelating).

Maar dit het nie alles daar geëindig vir Buys nie. “Ek het myself stadig maar seker opgewerk,” vertel sy.

“Ek onthou ek het altyd op ’n Vrydagmiddag naby toemaaktyd kantoor toe gekom en vir die ontvangsdame gesê sy moet my wys hoe werk die fone en goed, sodat ek ook kan weet. En so het ek myself opgelei.”

“En eendag toe die pos vir ontvangsklerk oop gaan, het ek dadelik aansoek gedoen en die werk gekry,” voeg sy by.

Buys vertel dat haar werk vir haar meer is as net oproepe neem en maak of lêers regpak – dit is haar diens aan haar gemeenskap. “Wanneer mense bel om dinge aan te meld of vir dienste soek, weet ek presies vir wie om te stuur. Want ek was ook daar op die grond, ek het ook strate gevee en vullis verwyder. Ek weet presies wat die erns is van die geval, want ek het dit alles gesien en ervaar – of dit nou ’n pyp is wat gebars het, of die krag wat af is, ’n drein wat verstop is of net ’n kraan wat stukkend is. Ek het dadelik begrip, want ek verstaan, néé, ek weet hoe dit voel.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article