Voorverlede week, presies 21 jaar gelede, is die eerste surrogaat-baba in die Breedevallei gebore.
Marais Smuts (21) het op Donderdag 4 Augustus mondig geword en vir enige ouer is dit ’n spesiale dag, maar vir sy ouers is dit ’n viering van die dag wat hul grootste droom bewaarheid is.
“Ek is met ’n hartdefek gebore en het altyd geweet ek sal nooit my eie kind kan dra nie, want ek kry te min suurstof en as gevolg daarvan sal die baba ook nog minder suurstof kry en abnormaal ontwikkel.
“Ek en my man is verskriklik lief vir kinders. Ná vyf jaar van getroude lewe het my skoonsuster, Erica Theunissen, aangebied om vir ons surrogaatma te wees,” vertel Marlene Smuts van Robertson.
Sy sê hulle het dadelik ja gesê, maar nie dadelik met die proses begin nie.
“Dit is ’n taamlike proses. Ek het die ginekoloog, dr. Emile Manefeldt, op Worcester gaan spreek en hy het gevra hoekom ons nog nie kinders het nie, maar al so lank getroud is. Ons het hom ingelig van my toestand en ook genoem dat my skoonsuster graag sou wou help.
“Hy was dadelik vuur en vlam om ons toe te help.”
Dr. Manefeldt het die paartjie na ’n professor in die Kaap verwys wat op daardie tyd in vrugbaarheidsbehandeling gespesialiseer het.
“Ná ’n paar ondersoeke en toetse het hulle my eierselle en my man se semen buite die liggaam bevrug en in my skoonsus ingeplant.
“Ná die inplanting moes ons tien dae wag om te hoor of sy swanger is. Dit was maklik die langste tien dae van ons lewe.
“Ek en my man het die Here gevra om die hele pad saam met ons te stap. Ek het ook vir die Here gevra, want dit is ’n baie duur proses en ons was toe nie finansieel sterk om dit vir ’n paar keer te kon probeer nie,” voeg sy by.
Marlene en haar man, wat ’n plaasbestuurder in Robertson is, was verheug om die nuus te kry dat die inplanting suksesvol was en haar skoonsuster swanger is met hul kind.
“Nou is ons seun 21 jaar oud. Ons is so dankbaar vir hom en so dankbaar dat hy sy passie uitleef. Hy is ook ’n boerseun in murg en been.
“Ons is ook dankbaar dat dit die eerste surrogaat-baba is wat in dié gebied gebore is. In Worcester. In Mediclinic.”
Sy vertel dat surrogaatskap wonderlik is. Sy beveel dit ten sterkste aan vir enige ouerpaar wat na ’n kind smag en nie self kinders kan kry nie.




