Uit die pen van die Burgemeester (banner)

Die BVM se burgemeester, Antoinette Steyn.


Ons by die Breedevallei-munisipaliteit bly gefokus op ’n skoon, veilige en gesonde omgewing vir al ons inwoners. Feestye bring egter groot uitdagings met groter hoeveelhede vullis en herstelplekke wat oor hierdie tyd gesluit is en wat die vulliskompakteerders se werking beïnvloed. Ons vaste-afval-afdeling staan voor verskeie uitdagings en dit is belangrik dat inwoners ’n beter begrip het van die omvang van ons dienslewering.

Die munisipaliteit beskik oor tien vulliskompakteerders, wat weekliks29 113 erwe bedien – sonder om agterplaasbewoners, informele nedersettings en kommersiële eiendomme in te sluit. Elke kompakteerder moet gemiddeld 2 911 persele per week diens, wat neerkom op 582 persele per dag.

Verder moet elke voertuig se hidrouliese stelsel, wat die wieletjiesdromme lig en die inhoud kompakteer, minstens 291 keer per dag werk – of 75 660 keer per jaar. Hierdie toerusting is onder geweldige druk – veral in die feestyd – en selfs met goeie instandhouding is herstelwerk onvermydelik. Weens die RT46-regeringstenderproses neem herstelwerk ongelukkig lank, wat dienslewering negatief beïnvloed. Die koste van ’n nuwe kompakteerder beloop R4 miljoen, en die BVM moet soms bykomende kompakteerders huur om die werkslading te verlig.

Ons personeel werk onder uiterste uitdagings. Indien ’n vulliskompakteerder ononderbroke werk, het werkers minder as een minuut om ’n drom leeg te maak. Hierdie tydsberekening is onhaalbaar, aangesien hulle steeds die stortingsterrein moet besoek en hul wettige rusperiodes moet neem. Die BVM beskik oor 47 kompakteerder-assistente vir al ons dorpe, met nege vakatures. EPWP-werkers en personeel van ander afdelings word gebruik om ná ure te help. Die vullisverwydering-span loop of hardloop gemiddeld 16 000 treë per dag, vyf dae per week, in alle weersomstandighede en met swaar veiligheidskoene. Tog word hulle dikwels onregverdig gekritiseer en selfs op sosiale media en in die gemeenskap beledig. Ten spyte hiervan bly hulle pligsgetrou om ons omgewing skoon te hou.

Onwettige afvalstorting is en bly ’n probleem. Die koste van vullisverwydering is R268,42 [per drom] per maand, wat beteken dat inwoners R61,94 per verwydering betaal. Baie persele oorskry egter die gewigsbeperking en plaas bykomende druk op die kompakteerders en personeel. Ongelukkig lei beperkings op vullisverwydering dikwels tot onwettige storting in oop gebiede, wat ekstra koste vir opruiming meebring.

Ten einde hierdie uitdagings te hanteer, is die vaste-afval-afdeling tans besig met verskeie aksies. Twee nuwe vulliskompakteerders is vir hierdie boekjaar beplan, waarvan die eerste in Januarie aangekom het en die tweede later in Februarie verwag word. Die BVM beoog om elke jaar ’n nuwe kompakteerder te koop totdat die hele vloot vervang is. Bykomende kompakteerders sal gehuur word soos nodig, en die BVM keur tans vir die vakante poste van bestuurder en superintendent van die vaste-afval-afdeling, asook vir kompakteerder-assistente.

’n Skoon omgewing is ’n gesamentlike verantwoordelikheid. Inwoners word versoek om die vaste- afval-afdeling te ondersteun en enige gevalle van onwettige storting aan te meld. Foto’s van oortreders of voertuigregistrasienommers, tesame met ’n beskrywing van die tyd en plek, kan gestuur word aan die 24-uur-BVM-inbelsentrum by ssc@bvm.gov.za of 0860 121 212 vir verdere ondersoek deur die wetstoepassingsafdeling.

Ten spyte van uitdagings het die BVM nog nooit ’n week oorgeslaan deur vullis nie te verwyder nie. Soms is dit dalk laat, maar dit word gedoen. Ons vaste-afval-afdeling werk daagliks aan volhoubare oplossings en ons sal die publiek op hoogte hou oor die aankoms van die tweede nuwe vulliskompakteerder.

Ons by die BVM bly toegewy aan ’n skoon, veilige en gesonde omgewing, want die Breedevallei is Suid-Afrika se Sorgstad.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article