Breedevallei is Suid-Afrika se Sorgstad en met die Kers- en feestyd om die draai is daar nou selfs meer omgee wat Breedevalleiers hierdie tyd van die jaar moet uitleef. Verskeie omgee-veldtogte loop saam met die Kers- en feestyd en dit is belangrik dat ons mekaar net weer moet herinner aan diegene wat die Kers- en feestyd ingaan en dalk nie so bevoorreg soos die ander is nie.
Die jaar 2024 was ’n goeie jaar vir baie Suid-Afrikaners, met ’n goeie verkiesingsuitslag wat tot die vorming van die regering van nasionale eenheid gelei het, wat vir baie Suid-Afrikaners weer hoop gee. Ook het die Suid-Afrikaanse rand vir die eerste keer in ’n baie lang tyd tot minder as R18 teenoor die Amerikaanse dollar versterk, terwyl gunstige inflasiesyfers die reserwebank beweegruimte gegee het om rentekoerse verder te verlaag.
Hierbenewens is daar ook onlangs bepaal dat die Wes-Kaap die laagste werkloosheidsyfer in die land het. Statistieke Suid-Afrika het vandeesmaand bekend gemaak dat die Wes-Kaap ’n daling van 2,6% in die werkloosheidskoers gehad het, met werkloosheid wat nou op 19,6% in die provinsie staan. Landswyd staan die werkloosheidskoers nou op 32,1%, ’n daling van 33,5% in vergelyking met die vorige kwartaal.
Tydens die skryf van hierdie artikel het Suid-Afrika al 240 beurtkraglose dae gehad, wat die langste beurtkraglose tyd in vyf jaar is. Dit beteken baie vir landbou, nywerhede en verbruikers.
Worcester is Suid-Afrika se hoofstad van gestremdes. Die nasionale koers vir die voorkoms van gestremdhede is 7,5%. Gestremdhede kom ’n bietjie meer voor onder vroue as mans (8,3% teenoor 6,5%). Mense met gestremdhede neem toe soos wat mense ouer word. Hierdie is nie net getalle nie, maar mense wat aspirasies, drome en doelwitte het.
Kersfees en die feestyd is natuurlik ook ’n baie moeilike tyd van die jaar vir soveel mense wat hierdie tyd alleen moet deurbring. Eens op ’n tyd het hulle families en geliefdes gehad, maar hulle is óf oorlede óf in ’n ander land en nou is diegene wat agterbly alleen. Ons dink aan julle in hierdie moeilike tyd en bid vir jul onderskraging.
Langs hierdie weg wil ek dan ook graag vir die munisipale bestuurder van die Breedevallei-munisipaliteit en al die direkteure en amptenare bedank vir al hul deursettingsvermoë, harde werk en vasbyt en opofferings – baiekeer op ’n persoonlike vlak – van die afgelope jaar. Weet dat ons as gemeenskap alles raaksien wat julle vir ons doen, en al jul opofferings waardeer.
Dan wil ek ook net graag by voorbaat ’n woord van dank aan almal in die nooddienste en veiligheidsektor rig – van ambulanspersoneel, buurtwaglede, brandweerdienste, hospitaal- en kliniekpersoneel tot patrollielede, polisie- en verkeersdienste, sekuriteitsbeamptes, wetstoepassers, ensovoorts. Julle is die mense wat oor Kersfees sorg dat ons almal veilig is en ’n helpende hand uitreik waar ons julle nodig het. Baie dankie vir al jul opofferings die afgelope jaar en dankie dat ons op jul teenwoordigheid in die feestyd kan staatmaak.
Baie dankie ook aan al die plaaslike kerkleiers wat gereeld vir ons almal by die munisipaliteit en ook vir die res van die gemeenskap kom bid het en ons met ’n geestelike boodskap bemoedig het. Ons almal waardeer jul ondersteuning verskriklik baie – veral in die tye toe daar baie uitdagings was.
Baie dankie ook aan alle organisasies, soos kerke, organisasies sonder winsbejag, sportklubs, kleuterskole, ensovoorts wat vanjaar gehelp om die gemeenskap te bou en te ondersteun in hul behoeftes.
Die jaar het vele uitdagings gebied – van ongekende oorstromings tot storms van verbysterende krag. Nietemin het ons almal kop bo water gehou en sterker aan die ander kant uitgekom.
Die grootste deel van die gemeenskap maak gereed om die belangrikste heilige dag op die Christen-kalender te vier, naamlik Kersfees. Kersfees simboliseer die geboorte van Jesus.
’n Gedeelte uit die Bybel wat die doel van Kersfees baie mooi uiteensit, kom uit Titus 3.
“Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn. Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming,” lui die teks.
Mag ons as gemeenskap in die feestyd almal hierdie ontferming ervaar en deel.




