Uit die pen van die Burgemeester

Antoinette Steyn, Burgemeester.


Ons almal smag na ’n skoon Breedevallei. Merkbare verskille wat baie van julle in onlangse tye sou oplet, is dat die gebiede van Breedevallei waar “skips” staan, baie skoner is en dat die ingange na Worcester skoner begin raak.

In die verlede het die munisipaliteit net ’n kontrakteur aangestel om skips in sekere gebiede te plaas, en om dit dan te gaan leegmaak sodra dit vol is. Die probleem was egter dat die vullis uit die skips uitwaai en mense daarin gaan grawe en dan al die vullis buite die skips op die grond uitsorteer, terwyl ander morsjorse weer kom en die vullis langs die skip gooi in plaas daarvan om dit in die skip te gooi.

Dit alles het dan veroorsaak dat daar in baie gevalle meer vullis rondom die skip as binne-in was en dat die hele gebied rondom ’n skip met gemors besaai was.

Gevolglik het die Breedevallei-munisipaliteit se vaste-afval-afdeling gegaan en die skip-tender van begin September vir die komende drie jaar as volg gewysig:. Die uitplaas van kleiner skips (hoe kleiner, hoe minder vullis kan daaruit waai).. Skips word elke dag vir ses dae van die week skoongemaak.. Die kontrak is uitgebrei sodat die kontrakteur nou ook daarvoor verantwoordelik is om die gebied rondom die skip skoon te maak en al die vullis rondom dit te verwyder en nie net die skip self te gaan leegmaak nie.

Hierdie nuwe maatreëls sal dus daartoe lei dat minder vullis in al die skips gehou word, dat meer beheer oor al daardie vullis uitgeoefen word en dat die skips meer gereeld skoongemaak word voordat die probleem net al groter word en die vullis wegwaai en elders te lande kom.

’n Diens waaroor almal sekerlik sal kan saamstem, is dat die wyse waarop die middedorp skoon gehou word, die gewenste resultate lewer.

Hierdie skoonmaakkontrak is uitgebrei om nou ook die ingange na Worcester in te sluit.

Voortaan sal al die ingange na Worcester – soos onder meer die Robertson-, die Villiersdorp- en die Aan-de-Doornspad – ook onder hierdie kontrak val en dus behoorlik skoongemaak word.

Voorheen was ’n belangrike in- en uitgang soos die Robertsonpad ’n seer oog vir enige inwoner en toeris op een van ons land se hoof-toerismeroetes, maar voortaan sal hierdie pad, tesame met al die ander ingange na Worcester, pragtig skoon vertoon.

Die Breedevallei sal baie mooier lyk as al die ingange na Worcester mooi netjies is en al die gebiede waar skips staan, ordelik en skoon is.

’n Mooier en skoner Breedevallei sal die resultaat wees van hierdie bykomende aspekte waarvoor die skip-kontrakteurs nou verantwoordelik gaan wees, wat die vullisverwyderingsdiens gaan aanvul, asook die uitbreiding van die middedorp-skoonmaakkontrak om ook al die ingange na Worcester in te sluit.

Inwoners word aangemoedig om te help om die Breedevallei skoon te hou en alle vullis wat hulle sien rondlê, óf te help optel óf by die BVM-inbel­sentrum by 0860 121212 aan te meld.

Ons almal wil mos graag trots wees op ons mooi dorp en omgewing.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article