Een van Breedevallei se grootste uitdagings is ons rioolprobleem. Hierdie probleem kom oral voor, maar in party gebiede is dit veel erger as in ander. Ons almal het al die tonele gesien van riool wat die strate oorstroom en voetgangers en verkeer wat gedwing word om daardeur te loop of te ry.
Daar is vele oorsake vir hierdie probleme, wat wissel van verouderde infrastruktuur tot beurtkrag. Beurtkrag vererger natuurlik die rioolprobleem eksponensieël, want as daar nie krag is nie, kan die rioolpompstasies nie loop nie, en wanneer die riool begin ophoop, kan dit net oorloop. ’n Verdere oorsaak is vandalisme, en dit is baie jammer om te sien hoe booswigte duur infrastruktuur verniel. Dit gebeur gereeld dat die rioolspan ongewenste voorwerpe soos bourommel, gestolde olies en vette, plastiek, stukke yster en tuinvullis uit riole moet haal.
oplos van Probleem
Daar is net een manier om ’n probleem van hierdie reusagtige omvang op te los, en dit is om reg by die begin te begin en dit wat verkeerd is, stukkie vir stukkie reg te maak.
BVM se rioolafdeling het vervolgens ’n konsultant aangestel om ’n studie van Worcester se rioolnetwerk te doen ten einde ’n bepaling te doen van wat presies fout is en hoe dit reggestel moet word. Hierdie ondersoek is in September verlede jaar voltooi en het spesifiek gefokus op dele van Worcester en Rawsonville waar die meeste rioolverstoppings voorkom, die sogenaamde knelpunte (“hot spots”). Uit dié verslag is projekte geïdentifiseer vir die kort, medium en lang termyn, wat sal help om rioolverstoppings te verminder.
Projekte Tans Aan die Gang
Ten einde die volgende probleme op te los, is die BVM se rioolafdeling besig met die volgende projekte wat hierdie ondersoek voorgestel het:
1. Kwinanastraat
Probleem: ’n Probleem wat telkens voorkom, is Kwinanastraat in Zwelethemba se riooloorstromings. Hierdie pyplyn is op vele plekke gebreek en dan verstop dit gereeld en dan loop daardie riool onder geboue en strukture in.
Oplossing: Gevolglik het die rioolafdeling begin om die hoofrioolpyplyn in Kwinanastraat oor te lê en te herbou.
Tydlyn: Daar word geskat dat hierdie projek nou in Augustus voltooi sal word.
2. Beveiliging van hoof-rioolpompstasies
Probleem: Die hoof-rioolpompstasies by Avianpark, Nobelpark, Zweletemba, sowel as die Toevlug-pompstasie word gereeld deur saboteurs, skrootmetaaldiewe en booswigte bygekom. Die oomblik dat een van die hoof-rioolpompstasies buite werking is, veroorsaak dit ’n kettingreaksie verder op in die rioolnetwerk.
Oplossing: Die rioolafdeling het begin om hierdie hoof-rioolpompstasies nou met hoë betonmure en CCTV-kameras te beveilig. Tydlyn: Die verwagting is dat hierdie projek in Augustus voltooi sal word.
3. Installeer van kragopwekkers
Probleem: Wanneer beurtkrag geld, is daar nie elektrisiteit wat die rioolpompe aan die gang hou nie. Wanneer die riool nie gepomp kan word nie, veroorsaak dit ’n kettingreaksie in die netwerk wat dan orals begin oorstroom. Hierdie probleem word natuurlik eksponensieel vererger wanneer fase 6-beurtkrag geld.
Oplossing: Gevolglik het die rioolafdeling begin om kragopwekkers by die vier hoof-rioolpompstasies, sowel as ’n verdere een by die De Doorns-Waterwerke, te installeer ten einde dié pompe tydens beurtkrag aan die gang te hou. Tydlyn: Die eerste twee kragopwekkers word begin Augustus afgelewer en die ander drie teen einde September. Hierdie projek behoort teen Oktober voltooi te wees.
4. Vervanging van Da Nova se hoofrioolpyplyn
Probleem: Die hoofrioolpyplyn in Rawsonville het begin verbrokkel en moes dringend vervang word.
Oplossing: Werk het begin om hierdié hoofrioolpyplyn te vervang. Tydlyn: Hierdie projek behoort in September voltooi te word.
5). CCTV-kamera-inspeksieprojek van probleemgebiede
Probleem: Op party plekke is dit baie moeilik om presies te bepaal wat die oorsaak van die verstopping is, aangesien party riole baie diep loop of doodeenvoudig net so ontwerp is dat ’n mens nie maklik toegang daartoe kan kry nie.
Oplossing: Gevolglik het die rioolafdeling met ’n CCTV-inspeksieprojek begin waarin hulle ’n spesiale CCTV-kamera in die rioolpype afstuur om video’s van die pype te neem om te bepaal wat die toestand van die pype is en te kyk vir enige gebreke soos onder meer boomwortel-indringing, gate, hoogtes ensovoorts.
Tydlyn: Hierdie inspeksieprojek is pas voltooi en die rioolafdeling is besig om die verslae te ontleed en besprekings met kontrakteurs te voer om vervanging en opgradering te begin.
Sodra die besprekings gefinaliseer is, sal duidelike tydskale van implementering vasgemaak word.
6. Kosteberaming van skoonmaak van sekere hoofrioollyne
Probleem: Verder is die rioolafdeling ook besig met ’n kosteberaming vir die skoonmaak van sekere hoofrioolpyplyne, aangesien die CCTV-kamera-inspeksie gevind het dat baie rioollyne vuil is en skoongemaak moet word.
Oplossing: Die CCTV-kamera-inspeksieverslag sal vir die roolafdeling aandui waar pype herstel of vervang moet word.
Tydlyn: Die munisipaliteit sal oor die volgende paar maande op die skoonmaak van sekere rioolpyplyne wat gereeld probleme gee, fokus.
7. Vervanging van dreindeksels
Probleem: Dreindeksels word gereeld gesteel en of gebreek, wat ook bydra dat ongewenste voorwerpe in die rioolpype beland en verstoppings veroorsaak. Oplossing: Spesiaal vervaardigde dreindeksels wat nie kan breek of gesteel word nie, is aangekoop en sal op die hoofrioolpyplyne se mangate geïnstalleer word.
Tydlyn: Die vervanging van dreindeksels het al begin en dit sal deurlopend gedoen word.
Hoewel die uitdagings met Worcester se rioolprobleem baie groot is, kan dit gewen word as die knelpunte eers geteiken word en probleme met die stelsel daarna voortdurend deur middel van proaktiewe instandhoudingsprogramme opgelos word .
Indien die publiek met die munisipaliteit saamwerk en die rioolstelsel (1) net vir riool-doeleindes gebruik en (2) vandalisme by die inbelsentrum of polisie sal aanmeld, sal dit al klaar baie help.
Dié probleem het baie oorsake, maar met al die inisiatiewe waarmee die rioolafdeling reeds in die kort termyn besig is – en nog in die medium en lang termyn beplan – blyk verligting vir Worcester se rioolprobleem in die spreekwoordelike pyplyn te wees.





