Uit die pen van die Burgemeester

Die BVM-burgemeester Antoinette Steyn


Die Breedevallei-munisipaliteit gaan in samewerking met die Kaapse Wynland-distrikmunisipaliteit ’n reeks opleidingsessies aanbied wat spesifiek daarop gefokus is om Breedevallei se entrepreneurs te bemagtig.

Die Breedevallei-munisipaliteit se plaaslike ekonomiese ontwikkelingsafdeling nooi belangstellende klein- en medium sake-eienaars sowel as informele handelaars uit om hul sakekennis te verskerp en hul sakenetwerke uit te brei deur aansoek te doen om die werksessies by te woon.

Navorsing dui daarop 20% van alle pas-gestigte start-up-ondernemings wêreldwyd sal binne die eerste jaar misluk, terwyl 60% dit nie verby jaar drie sal maak nie. Hierdie is ontstellende syfers, maar sake-eienaars moet dapper wees en probeer volhard om hul ondernemings te laat groei, selfs al is dit eers net ’n tydverdryf voordat dit in ’n latere stadium behoorlik van die grond afkom.

’n Verdere uitdaging is egter dat na afloop van die Covid-19-inperking daar steeds baie klein- en medium sake-eienaars en informele handelaars is wat uitdagings in hul bemarkingstrategieë, finansiële aangeleenthede en sakebedrywighede ervaar.

Die doel van hierdie reeks werksessies sal wees om die kommersiële lewensvatbaarheid van die Breedevallei se klein- en medium sake-eienaars en informele handelaars met opleiding en kapasiteitsbou te verbeter, wat dan uiteindelik sal help om die sake-omgewing te verbeter.

In dié sin sal die werksessies dan veral gefokus wees op klein- en medium sake-eienaars en informele handelaars wat voorheen nie die nodige opleidingsgeleenthede in sakebestuur gehad het nie, maar sal ook diegene help wat beplan om hul ondernemings te begin en van die grond af te kry.

Die doel sal egter wees om te verseker dat dié groeperings die nodige ondersteuning het sodat hulle hul sakebedrywighede en winste kan verbeter en terselfdertyd ook hul kanse verbeter om plaaslike werksgeleenthede te help skep.

Die volgende onderwerpe gaan alles op hierdie leerplatform behandel word – die ontleding van die onderneming se behoeftes; die diagnosering van die onderneming se uitdagings; die identifisering van diversifiseringsmoontlik-hede van die onderneming; die oordrag van kennis oor hoe die onderneming doeltreffend bestuur moet word; ’n poging om informele ondernemings te formaliseer; voorstelling aan die konsep van sektorale groepe (sectoral clusters) en watter voordele dit vir sakeondernemings inhou en; hoe waardekettings werk en hoe om mededinging en veral opposisie te hanteer.

Die bywoning van dié werksessies sal help om doeltreffende leierskapsvaardighede te ontwikkel; om ’n beter begrip te vorm oor hoe om ’n onderneming te bestuur; om spesifieke uitdagings in sekere sektore te oorbrug; om besluitneming, kommunikasievaardighede en produktiwiteit te verbeter; om ’n onderneming te laat groei; en om geleenthede te identifiseer.

Die BVM se plaaslike ekonomiese-ontwikkeling-afdeling teiken juis hierdeur klein- en medium sake-eienaars en informele handelaars in ’n poging om gemeenskap deur ekonomiese groei te integreer en in hierdie opsig is finansiering opsygesit wat aan die konstruksie van fasiliteite vir sakeondernemings bestee gaan word.

Die werksessies maak spesifiek ook voorsiening vir gestremdes, met ’n gebaretaal-tolk wat ook gaan help. Terselfdertyd word vervoer ook verskaf aan diegene vir wie dít ’n uitdaging is.

Ten einde maksimum bywoning te verseker, gaan die werksessies spesifiek in De Doorns, Rawsonville, Touwsrivier en Worcester aangebied word.

Belangstellende klein- en medium sake-eienaars en informele handelaars kan e-pos aan die onderstaande e-posadresse stuur. ’n Webskakel wat meer inligting oor die werksessies bevat, sal dan aan mense teruggestuur word. Inwoners van De Doorns kan stuur aan: dedoornsled@bvm.gov.za; inwoners van Rawsonville kan e-posse stuur aan: rawsonvilleled@bvm.gov.za; inwoners van Touwsrivier kan stuur aan: touwsriverled@bvm.gov.za en; inwoners van Worcester kan stuur aan: worcesterled@bvm.gov.za

Aangesien heelwat moeite en beplanning van die kant van die Kaapse Wynland-distrikmunisipaliteit en die Breedevallei-munisipaliteit in die aanbieding van dié werksessies ingaan, word belangstellende klein- en medium sake-eienaars en informele handelaars aangeraai om nie dié geleenthede deur die vingers te laat glip nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article