Uit die pen van die Burgemeester

Worcester vier 200 jaar. Antoinette Steyn, uitvoerende burgemeester.Foto:


Die gure stormweer onlangs het ongekende skade aan Breedevallei se elektrisiteit-infrastruktuur veroorsaak.

Nie ’n enkele wyk in Breedevallei is nié deur die storms geraak nie – inwoners van oral het sonder krag gesit en die elektrisiteitsafdeling moes behoorlik bontstaan om almal se elektrisiteitstoevoer te herstel.

Ten spyte van hierdie uitdagende omstandighede het die elektrisiteitsafdeling egter gewys hulle is slaggereed om enige krisis te hanteer.

Die wind het etlike bome omgewaai, takke afgeskeur en voertuie van die pad af gedruk. Terwyl hierdie storms voortgewoed het, moes die elektrisiteitsafdeling in daardie gure weerstoestande begin om die nodige herstelwerk uit te voer.

Dit het dus gelei tot talle klagtes van inwoners. Om sake te vererger, het kragkabeldiewe ingespring en die situasie uitgebuit. Talle voorvalle van kragkabeldiefstal is by De Doorns, Johnsonpark en Zwelethemba aangemeld.

Die 24-uur-BVM-inbelsentrum het ’n ongekende invloei oproepe ervaar en by tye moes raadslede en die publiek tot 20 minute lank aanhou voordat hul oproepe beantwoord kon word.

Hierdie lang vertraging is in baie gevalle veroorsaak deur inwoners wat inbel om dieselfde klagte oor en oor aan te meld.

Tydens hierdie krisis het altesaam ses interne spanne (bestaande uit 10 werkers), asook die kontrakteurs, Bloemhof Electrical en Momotheka Trading, bykomende hulp verskaf.

Ten einde al die klagtes te hanteer, moes elke span gemiddeld 30 tot 40 klagtes in die krisistyd hanteer. Dié spanne het van die oggend tot die aand die heeltyd gewerk.

Alle amptenare en kontrakteurs het die ekstra myl gestap om te verseker dat die krag so spoedig moontlik herstel kon word.

Hierdie klagtes is grotendeels binne een tot enkele dae opgelos en teen die derde dag was alles opgelos.

Om alles te kroon, het die skakeltuig van die Heynsstraat-substasie (aan die voet van die Rabielaanbrug) in Hospitaalheuwel Sondag 17 September geblaas, wat veroorsaak het dat Hospitaalpark, Hospitaalheuwel, Tuindorp, Bergsig en Fairy Glen toe weer sonder elektrisiteit gesit het.

’n Interne fout het op die skakeltuig voorgekom, wat ’n abnormale elektriese ontlading veroorsaak het.

Wanneer soveel klagtes meteens inkom, gaan die elektrisiteitsafdeling sistematies te werk om die klagtes op te los: (1) Noodgevalle waar mense se lewe van elektrisiteitstoevoer afhang, word eerste geprioritiseer, soos byvoorbeeld hospitale of ouetehuise. (2) Daarna kry gebiedsfoute voorkeur, waar hele woonbuurte sonder elektrisiteit sit. (3) Daarna kom individuele klagtes aan die beurt waar ’n enkele huis sonder krag sit.

Ek dink as ons almal lesse uit hierdie krisis kan leer, is dit die volgende: (1) Bly kalm en ordentlik (want anders raak almal ontstig en dan verskuif die fokus weg van die ware probleem na skarebeheer). (2) Identifiseer noodgevalle eerste. (3) Werk deur ’n sentrale punt (wykraadslid of wykskomiteelid) in ’n poging om die druk op die BVM-inbelsentrum te verlig. (4) Help om moontlike oorsake te identifiseer (byvoorbeeld takke wat aan drade krap, vonke wat jy iewers gesien het, drade wat los afhang, ensovoorts), want dit spaar die elektrisiteitsafdeling baie tyd as hulle ’n leidraad kan kry van waar ’n elektrisiteitsfout moontlik ontstaan het.

Dit is veral belangrik om te sê waar inwoners vonke gesien het, want dit is juis daar waar die drade aan mekaar geraak en ’n kortsluiting veroorsaak het.

Ek wil graag die gemeenskap bedank vir die ordelike wyse waarop hulle gehelp het om die krisis die hoof te bied.

Dankie aan diegene wat kalm gebly en ordentlik te werk gegaan het om hul klagtes aan te meld.

Tydens hierdie krisis het die parke-afdeling ook ’n groot rol vervul om oraloor die bome se probleemtakke af te saag en te verwyder.

Menige inwoner sal kan getuig dat die parke-afdeling onmiddellik aan die werk gespring het en dat takke wat paaie, opritte en sypaadjies versper het, binne ’n rekordtyd verwyder is.

Ek wil ook graag die elektrisiteitsafdeling bedank dat hulle geen inwoner tydens die elektrisiteitskrisis agterweë gelaat het nie.

Dit was ’n ongelooflike opoffering om vir soveel ure aaneen in wind en weer bo in ’n aerial bucket te sit om stukkende kragkabels te herstel, en baie van die werkers het verkoue opgedoen en was daarna siek.

Ten spyte daarvan het hulle Breedevallei-munisipaliteit se inwoners eerste gestel.

So, vandag wil ek graag vir hulle die nodige erkenning gee en dankie sê vir hoe mooi hulle ons almal in ons tyd van nood bygestaan het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article