Deur Antoinette Steyn, burgemeester van die Breedevallei-munisipaliteit
Ons almal wil mos graag in ‘n omgee-munisipaliteit bly; daarom is Vrouedag en Vrouemaand daardie een dag en een maand wat ons weer daaraan herinner wat ons veronderstel is om aldag en die hele jaar lank te doen – naamlik om vroue te bemagtig en op te hef, sodat hulle hul plek op ‘n waardige wyse in die gemeenskap en samelewing kan vol staan.
Nedbank-bemagtigingstoekennings
Die bemagtiging van vroue in die Breedevallei in die algemeen het vandeesmaand op ‘n hoë noot begin toe die Breedevallei-munisipaliteit op die Nedbank Oliver-bemagtigingsprysuitdeling vir ons pogings om die Breedevallei-munisipaliteit meer verteenwoordigend van sy diverse gemeenskappe te maak, vereer is. Die geleentheid is by die Sandton-konferensiesentrum in Johannesburg gehou.
Die Vroue Munisipale Leierskaps-uitnemendheidstoekenning word met trots deur die Suid-Afrikaanse plaaslike owerheidsvereniging (Salga) geborg. Hierdie invloedryke toekenning vier vroulike munisipale leiers wat uitnemendheid in bestuur toon – veral in die toonaangewende munisipaliteite wat skoon oudits onder die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) behaal het.
In ‘n verklaring op sy webwerf sê Salga die volgende oor dié prys:
“Terwyl ons Vrouemaand herdenk, het ons vroueleiers vereer wat uitnemendheid in hul munisipaliteite dryf. Ons werp die kollig op vroue geleide munisipaliteite met skoon oudits, wat hul toewyding aan goeie bestuur en gesonde finansiele bestuur beklemtoon.”
Toekenning aan Breedevallei se vroue opgedra
Die Breedevallei-munisipaliteit is deur dapper besluitneming en ‘n mensgerigte omgee-leierskapsbenadering tot ‘n meer inklusiewe en verantwoordbare instelling getransformeer. Hierdie merkwaardige prestasie wys dat ‘n vrou nooit vir iemand hoef terug te staan nie en dat vroue nooit hoef te dink dat hulle nie goed genoeg is nie.
Die Breedevallei-munisipaliteit sou nooit hierdie prys op sy eie losgeslaan het nie. Ons het dit gewen deur die samewerking van al die Breedevallei se vroueleiers in die Breedevallei-munisipaliteit – en vir al ons vroulike gemeenskapsleiers, soos vroulike bankwerkers, vroulike buurtwagpatrollielede, vroulike dokters, huisvroue, koshuismoeders, vroulike munisipale amptenare, onderwyseresse, vroulike polisielede, vroulike regeringsampte- nare, skoonmaaksters, verpleegsters, vrywilige vroulike gemeenskapsaktiviste, vroulike wetstoepassingsbeamptes, vroulike winkelassistente en vroulike wykskomiteelede – dit alles danksy almal wat deur spanbou en samewerking saam hierdie golf van verandering en hierdie merkwaardige toekenning moontlik gemaak het.
Dit wys dat as ons plaaslike vroue al hul omgee en sorgsaamheid saamsit en saam fokus, ons ‘n verskil kan maak en ons op die land se topverhoë gaan meeding – ons hoef vir geeneen terug te staan nie. Die feit dat ons almal se jarelange opofferings en harde werk op ‘n nasionale vlak by so ‘n spoggeleentheid vereer is, wys net met watse kaliber vroueleiers ons hier in die Breedevallei geseën is.
Al hierdie vroue speel ‘n belangrike rol en is leiers in hul onmiddellike omgewings. Die tannie in die koshuis wat sop kook, help dat die kinders die leiers van môre kan word. Haar sorgsaamheid wat sy vir voeding en honger-magies-volmaak gee, maak van haar ‘n leier op haar gebied.
Ander mense het dalk weer nie die kennis oor hoe om ‘n pot sop vir 80 kinders te kook nie – vroue moet net asseblief nooit dink hulle is nie goed genoeg en dan vir ander terugstaan nie. Hierdie prys, wat die Breedevallei-munisipaliteit gewen het, is ‘n bewys dat ons almal – manne en vroue – leiers op ons onderskeie gebiede is!
Vereer ons allerdaagse helde
Daagliks sien ons die leiers in ons gemeenskap wat vroue help bemagtig.
Kyk byvoorbeeld na Sharon Goosen, die mobiliteitsbeampte by Innovation for the Blind. Sy leer siggestremde kinders van ‘n jong ouderdom af dat hulle nie moet bang wees vir die vreemde wêreld daarbuite nie, en dan neem sy hulle met baie groot geduld aan die hand en leer hulle om selfstandig en onafhanklik in die wêreld te kan rondbeweeg.
‘n Ander voorbeeld is Ryno Eksteen wat by Innovation for the Blind op sy kalm en rustige manier vir siggestremde leerders leer om net met hul hande al die mooi in die wêreld daarbuite te sien en op ‘n kreatiewe manier kuns daarvan te maak.
So is daar Willie du Toit, wat as koshuispappa ‘n vaderfiguur vir baie siggestremde meisies by Innovation for the Blind is en met sy omgee-hart help om vir hulle ‘n tuiste te skep waar hulle aanvaar kan word.
So is daar ook Frances Christians, die matrone by die Shalom-Ouetehuis vir Dowes, wat met haar mooi omgee-persoonlikheid ‘n waardige tuiste aan gehoorgestremde bejaardes bied.
Net so het Association for People with Disabilities, DeafBlind SA, die De la Bat-skool, die Edenskool, die Nuwe Hoop-skool, die Pionierskool en al die ander skole en organisasies ook hulle eie omgee-ambassadeurs.
Vandag is die Breedevallei ‘n soveel beter plek as gevolg van al ons vroue se omgee en sorg vir ons almal in die gemeenskap.
Die Breedevallei se toekenning is ‘n tasbare bewys dat ons steeds in Suid-Afrika se Sorgstad woon en plaas ‘n plig op ons almal – mans en vroue – om mekaar daagliks in ons handel en wandel te probeer bemagtig en op te bou, sodat ons almal saam en as ‘n gemeenskap kan wen.




