Die buitelug tussen blomme, plante en gras is vir die meeste mense ’n plek waar jy rustig kan sit en ontspan, maar vir Alma van Heerden (65) is dit ’n plek waar sy haar passie vir tuinmaak kan uitleef.
Alma, oorspronklik van Wolseley, was 43 jaar lank ’n verpleegster en het onlangs afgetree. Sedert die begin van Augustus besit sy en haar seun, Paul Moller, The Wise Gardener-tuin by die Nasionale Instituut vir Dowes.
Sy sê sy het geen professionele opleiding as dit by plante en blomme kom nie.
“Ek het met blomme grootgeraak. My pa het proteas en orgideë gekweek. Ek het in die veld grootgeword. Ek was nog altyd lief vir plante, blomme en kruie,” sê Alma, wat met veldblomme en plante begin het.
Volgens Alma is ’n roos haar gunstelingblom. “Ek was nog al die jare lief vir ’n roos en dit is so ’n maklike blom om te versorg,” sê sy.
Volgens haar is een van die moeilikste plante om te versorg ’n vetplant. “Mense dink nie so nie, maar baiekeer is ’n vetplant nie geskik om in die son geplant te word nie. Die plantjies se blaartjies kook as hulle in potjies gesit word. Die plastiek en grond raak warm en droog. As jy ’n vetplant in ’n potjie plant moet jy dit maar in koelte sit,” verduidelik sy.
Die feit dat jy teen die elemente van die natuur plante en blomme moet versorg, is volgens Alma die moeilikste gedeelte van tuinmaak.
“Jy moet gedurig die weer dophou en sorg dat jou delikate plante en blomme gereeld verskuif word soos nodig. Dis moeilik, want alle blomme en plante is verskillend en benodig verskillende weersomstandighede om te groei,” sê Alma.
Volgens haar is die lekkerste gedeelte van tuinmaak om te plant en om self met die blomme te werk.
“Wat my die meeste vreugde gee, is wanneer ek steggies maak en hulle begin groei. Wat my die hartseerste maak, is as iemand my plante en blomme koop. Maar ek weet ook hulle maak nou iemand anders gelukkig,” sê sy.
Met lente hiér, is dit die geskikte tyd op jou eie tuin te begin of selfs net jou tuin op te kikker. Alma deel haar wenke:1. Beplanning: Om eerste na die natuur te kyk en te beplan, is die belangrikste. “As jy ’n skoon bedding wil begin, moet jy eers beplan, want die son gaan nou anders wees as in die winter. Kyk na watter soort grond jy het en wat jy in daardie grond kan plant sodat dit kan blom,” sê sy. 2. Dreinering: Volgens Alma is die dreinering van die grond baie belangrik. “Enige plant hou van grond wat goed dreineer. Sorg ook dat jy altyd goeie kompos het. ’n Goeie deklaag doen wonders vir jou blomme en plante,” sê sy. 3. Berei jou bedding voor volgens die plante wat jy wil plant. “Jy moet ook navorsing doen oor die plante wat jy wil plant, soos bv. wanneer moet ’n roos water kry,” sê Alma.
Sy sê sy het al baie lesse geleer en van die lesse is onder meer: . Gif vernietig alles. Sy sê sy gebruik glad nie gif nie. Sy moedig natuurlike produkte soos kaneel aan. “Ek gebruik kaneel veral oor my vetplante. Ek gebruik ook seepwater as dit nodig is,” sê sy. . Plant op die regte plek. Volgens Alma sal jou plante of blomme floreer as dit op die regte plek geplant is. . Voeding is belangrik. Dit is belangrik om jou plante en blomme kos te gee en dit beteken nie net water nie. “Ek gebruik net vloeibare voeding, want die korreltjies brand soms jou blomme of plante,” sê sy.
Alma sê sy sien elke dag hoe water gemors word.
“Ons moet in vandag se tyd waterwys tuinmaak. Gebruik die water wat so wegloop en gooi jou plante of kruie daarmee nat. Hulle soek net ’n bietjie water,” sê sy.
“Voordat jy met een skêr jou blomme snoei, doop dit eers in Jeyes Fluid-water. Dié water ontsmet jou skêr en keer dat kieme oorgedra word,” sê Alma verder.
Alma se topvyf-tuingereedskapstukke wat sy elke dag gebruik en nie sonder kan werk nie, is:. ’n Fyn skêrtjie;. Skerp snoeiskêr;. Dun houtstokkie;. Gewone grafie;. Tuinvurkie.
Sy sê van nou tot Desember is die geskikte tyd om te begin tuinmaak en moedig almal aan om hul groen vingers in die beddings te steek en tyd in hul tuine deur te bring.
“Ek het nog altyd ’n passie gehad vir tuinmaak en nou kan ek dit op my oudag werklik uitleef,” sê sy.





