Die plaaslike skrywer Charné Harding se eerste roman is tans beskikbaar. Foto: Tamsyn Jantjies


Charné Harding van Worcester is al van kleins af ’n bibliofiel – en skryf het later haar terapie geword.

Harding het al ’n hele paar gepubliseerde werke op haar kerfstok. Haar mees onlangse, Meesterlike dubbelspel, is haar eerste roman.

“My gelukkigste dae in my kinderjare was die dae wat ek in die biblioteek deurgebring het. Later in die lewe het ek verskeie traumas deurgemaak en skryf het toe my terapie geword. Ek het eers toe ons in 2014 na Worcester verhuis het, gedigte begin skryf. Die beeldskone natuur hier het my geïnspireer.”

Harding het toe in 2020 ’n skryfsessie met Wilmarie Ina Jooste bygewoon.

“Dit is sy wat my aangespoor het om my eerste kortverhaal te publiseer. Dit is in ’n kortverhaalbundel saam met werke van ander skrywers gepubliseer; Wilmarie is een van die skrywers,” verduidelik Harding.

Sy bieg dat sy baie senuagtig was vir haar eerste gepubliseerde storie.

“ ’n Mens is mos maar altyd bekommerd oor wat mense gaan dink.”

Meesterlike dubbelspel handel oor ’n vrou in die 1700’s wat groot drome het, maar sy word gedwing om ’n paar dinge prys te gee om haar droom te bewaarheid.

“My stories gaan altyd min of meer oor sekere dele van my lewe. Ek het ook ’n obsessie met vroue en kinders, dus is my hoofkarakters altyd vroue. En ek is gefassineerd met historiese tye,” vertel sy oor haar nuwe boek.

Dié ma van twee – én hoof en eienaar van ’n kleuterskool – sê sy gebruik haar slapelose ure om te skryf.

“Ek sukkel om saans te slaap. Dan is dit die gulde geleentheid om te skryf – wanneer die huis doodstil is.”

Sy noem ook dat dit baie moeilik is om ’n storielyn en karakter se persoonlikheid uit te werk.

“Soms kom die storielyn maklik. Maar jy weet nie altyd wat in die boek gaan gebeur nie, so nou skryf jy maar soos die karakter jou lei. Wanneer jy uiteindelik klaar is met die storie, is dit die mees vreugdevolle oomblik wat jy kan beleef!”

Sy wil graag hê lesers moet iets uit haar stories leer en haar stories moet ook ’n verskil in mense se lewe maak. Haar ander begeerte is dat haar boeke eendag deur een van die groot uitgewers uitgegee sal word.

Meesterlike dubbelspel is tans by Bargain Books te koop. Vir meer inligting oor Harding se ander gepubliseerde werk en opkomende projekte, volg haar Facebook-blad, Charné Harding.. Een gelukkige leser staan die kans om ’n pakkie met Harding se boeke te wen. SMS die woord Dubbelspel na 34426 voor Maandag 29 Mei om 12:00 om te wen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article