ROBERTSON – Die obelisk wat oor die Van der Merwe-gedenksteen voor die NG Moederkerk troon, is glo “seksueel offensief”.
Die gedenksteen gaan dus om dié rede verskuif word waarna die obelisk verwyder gaan word.
Ds. Janlu Kuyler, leraar van die NG Moederkerk, wou nie veel uitbrei oor die redes agter die verskuiwing nie.
Kuyler sê: “Die kerkraad van Robertson Moedergemeente bevestig dat ons ’n besluit geneem het om die gedenksteen te verskuif.
“Ons het ’n deursigtige proses binne die kerkraad, die gemeente en die Van der Merwe-familie gevolg. Ons het geen verdere kommentaar te lewer nie.”
’n Petisie wat die verskuiwing van die gedenksteen en verwydering van die obelisk teenstaan, het teen Dinsdag reeds talle name bevat.
Dianne Coetzee, ’n jare lange lidmaat van die kerk wat ook gekant is teen die verskuiwing van die gedenksteen, het verlede week hieroor na Standard Breederivier Gazette uitgereik.
“Die gedenksteen met die obelisk staan nou al 96 jaar voor die kerk. Oor die dekades heen het niemand nog die obelisk bo-op die gedenksteen as seksueel offensief beskou nie.
“Op die kerkterrein is predikante begrawe met grafstene wat obelisks op het. Hulle kan dan mos sommer die hele begraafplaas afbreek.”
Volgens Coetzee word beweer die obelisk “hou mense uit die kerk”.
“Dis onsin. Die kerk is al die jare nog stampvol. Dink net hoeveel mense hulle sal kan kos gee met die geld wat hulle wil gebruik om die gedenksteen te skuif.”
Mike Lacroix, ’n inwoner wat ook gekant is teen die verskuiwing, sê dit is belaglik dat die obelisk as seksueel offensief beskou word.
“Dis malligheid. Ek kan nie dink dat mense so kleinsielig is dat hulle so iets in ’n gedenksteen raaksien nie. As dit is soos hulle dink, moet hulle al wat graf en kerktoring met obelisks is, ook tot niet maak.”
Zack Julies, outeur van die petisie, sê by navraag: “Ek dink die redenasie agter die verskuiwing van die Van der Merwe-gedenksteen is beide belaglik en gevaarlik.
“Die dorp se geskiedenis word geskend om die politieke ideologie van ’n paar mense te pas wat ironies genoeg vandag baat vind by ds. H.P. van der Merwe se harde werk en nalatenskap. “Ons moet waninlingting in alle vorme bekamp en ons erfenis beskerm.”
Die raadslid Craig Steyn van die Langeberg-munisipaliteit verduidelik in ’n brief aan Coetzee: “Die obelisk het ’n lang geskiedenis wat nie van sy simboliese betekenis geskei kan word nie.
“Sy oorsprong in antieke Egipte is diep gekoppel aan die songod Ra, en dit is beskou as ’n kanaal tussen die hemel en die aarde, wat goddelike krag en ewige lewe beliggaam.
“Die obelisk het egter ook ’n ander laag simboliek wat verband hou met vrugbaarheid en veral manlike generatiewe krag. Hierdie falliese simboliek was ’n hoeksteen van die interpretasie daarvan in beide antieke en moderne kontekste. Om bloot te stel dat dit gebou is vir sy argitektoniese styl volgens die tydperk, is skaars akkuraat. “Jy kan dit nie van sy aangehegte simboliek skei nie – stap verby ’n swastika en sê vir jouself dit is bloot vir versiering.
“Ek sou ook nie wou hê dat hierdie struktuur weens die aard van die struktuur op enige van my troufoto’s moet wees nie.”
Luidens die brief het die Vrymesselaars lank reeds die obelisk as simbool in sy argitektoniese en filosofiese tradisies gebruik. Die obelisk se Vrymesselaarsimboliek weerspieël dikwels idees van verligting, kennis en die strewe na morele en geestelike verheffing.
Dit dra egter ook by om sy ouer, meer antieke betekenisse te dra, insluitend sy voorstelling van manlike krag en vrugbaarheid. Hierdie gelaagde betekenisse maak dit ’n komplekse simbool in enige konteks.
Dit is belangrik om die obelisk se komplekse rol binne die Christendom te oorweeg. Terwyl vroeë Christene in die Romeinse Ryk obeliske aangeneem het en hulle herbruik het om hul heerskappy oor heidendom te demonstreer, het die struktuur nooit sy heidense wortels ten volle afgeskud nie. Keiser Konstantyn het byvoorbeeld verskeie obeliske van Egipte na Rome geneem as deel van sy kersteningspogings, maar hierdie monumente het steeds hul assosiasies met die Egiptiese heidendom gedra. Die obelisk se dubbele rol as ’n simbool van mag en ’n falliese simbool gekoppel aan vrugbaarheid en manlike oorheersing bly in stryd met die Christelike leerstelling, wat heidense afgodery verwerp.”





