Twee mans is in afsonderlike voorvalle met messe aangeval en is later in die hospitaal weens hul onderskeie wonde dood.

Die een voorval het Woensdag 12 Junie om 11:00 buite ’n winkel in die OVD-buurt plaasgevind.

“Die winkeleienaar, ’n Ethiopiër, en sy broer was buite die winkel besig toe twee mans met hulle kom praat.” ’n Stryery het toe tussen die winkeleienaar en die twee mans uitgebreek. Die een verdagte het toe ’n mes uitgeruk en die eienaar se broer het weggehardloop.

“Die winkeleienaar, ’n 28-jarige man, is een keer in die kop gesteek,” verduidelik AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder vir die Worcester-polisie.

Die man is hospitaal toe geneem, waar hy later aan die steekwond beswyk het. Die twee verdagtes is later in hegtenis geneem.

In ’n afsonderlike voorval is ’n 33-jarige man Sondag in die vroeë oggendure in die hospitaal dood nadat hy ook gesteek is.

Hierdie voorval het om 01:15 agter Kuikenstraat in Avianpark plaasgevind.

“Die polisie is deur ’n dokter by die hospitaal ontbied. Die slagoffer is met ’n private voertuig na die hospitaal gebring met ’n steekwond aan die regterkant van sy nek.

Kort nadat die dokter die slagoffer aan die polisie uitgewys het, het hy gesterf,” verduidelik Jacobs.

Dit is in hierdie stadium nog onduidelik wat tot die steekvoorval gelei het.

Geen verdagtes is in verband hiermee in hegtenis geneem nie, het Jacobs bevestig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article