Twee o.13-spelers van die Laerskool Worcester-Noord het die afgelope Sondag (3 November) albei “Speler van die wedstryd”-toekennings in twee wedstryde vir die Overberg Eagles in die Boland T20-toernooi ontvang. Die wedstryde is op Paarl Krieketklub se velde gespeel. Wynand Stofberg (regs) het in die wedstryd teen die Guardians vier paaltjies vir 16 lopies geneem en 15 lopies van 19 balle aangeteken en is aangewys as “Speler van die wedstryd”. Leonadio Mackenzie het in die wedstryd teen die Wildcats drie paaltjies vir agt lopies geneem en 27 lopies van 35 balle geslaan om die “Speler van die wedstryd”-toekenning vir daardie wedstryd te kry. Wat die prestasie vir dié twee seuns baie besonders maak, is die feit dat hulle verlede jaar op die Coetzenburg-veld in Stellenbosch dieselfde vir die Overberg Eagles se o.12-span vermag het toe hulle ook albei “Speler van die wedstryd”-toekennings in hul onderskeie wedstryde teen die Dragons en die Guardians ontvang het. Hulle speel Sondag (10 November) in die eindronde van die Boland-T20-reeks teen die Wildcats en ons wens hulle alle voorspoed toe.


Twee skitter weer

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article